Nuus 09:00
BULLETIN 25 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister George sê die Wet op Klimaatsverandering is ‘n mylpaal
# TLU SA stel sy Handves vir die Beskerming van Privaat Eiendomsreg bekend
# En, Olimpiese Spele: Vyftien SA polisiebeamptes gaan help in Parys
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing Dion George loof president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wet op Klimaatsverandering. George noem dit ‘n beslissende stap in Suid-Afrika se klimaatstrategie, gemik op die vermindering van uitlatings, die verbetering van veerkragtigheid en die skepping van groen werksgeleenthede. Die wet gee ‘n oorkoepelende raamwerk vir nasionale klimaatsoptrede en versterk koördinering met globale beloftes kragtens die Ooreenkoms van Parys. Hy beklemtoon die behoefte aan samewerkende instelling waarby alle sektore betrokke is.
# TLU SA sê sosialistiese retoriek, onhaalbare verwagtings en rasgedrewe wetgewing vir privaat eiendom het die ekonomie en die landbousektor ernstig ondermyn. Die landbou-organisasie het die Handves vir die Beskerming van Privaat Eiendomsreg bekendgestel. TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê individue en maatskaplike instellings moet saamstaan teen enigiets wat privaat eiendom bedreig:
# Tshwane-burgemeester Cilliers Brink sê die mosie van wantroue teen hom is om die metro terug te neem na die dae van plundery, wanbestuur en geen aanspreeklikheid nie. Die ANC wil die DA-burgemeester verwyder en sê dienslewering en Tshwane se finansies het onder sy bestuur verswak. Brink sê dis duidelik dat hulle hom wil verwyder as gevolg van die nuwe prestasievereistes vir ‘n vullisverwyderingskontrak wat ondernemings met ANC-bande raak:
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu het diegene wat sy land van volksmoord beskuldig, gestriem en sê sulke beskuldigings kom neer op anti-semitisme. Hy het gister ‘n gesamentlik sitting van die Amerikaanse Kongres toegespreek. Tientalle Demokrate in die Kongres het die toespraak uit protes teen die oorlog geboikot. Netanyahu was onversetlik teen ‘n aanspraak van die Internasionale Strafhof dat Israel doelbewus burgers in sy oorlog teen Hamas teiken:
# Olimpiese Spele: Vyftien lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Openbare Orde-afdeling is in Parys ontplooi om te help met uitvoering van polisiëringsfunksies. Die span, sewe vroue en agt mans, het elk meer as tien jaar ondervinding in openbare-orde-polisiëring. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê sommige van die pligte van die beamptes in Frankryk sluit in skarebeheer in verskillende gebiede en die patrollering van paaie rondom die Olimpiese persele. Die openingseremonie van die Spele is môre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-144-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-376-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….