Nuus 08:00
BULLETIN 25 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Interpol ondersteun Suid-Afrika se stryd teen internasionale georganiseerde misdaad
# Die DA bly by vasberade die NGV kan nie universele gehalte gesondheidsorg bied nie
# En, Joe Biden sê beste pad vorentoe is om die fakkel aan ‘n nuwe geslag te oorhandig
# Interpol sê hy ondersteun die globale netwerk teen georganiseerde misdaad tussen volke. Die misdade sluit in terrorisme, mensehandel, kubermisdaad en dwelmsmokkelary. Interpol se sekretaris-generaal, Jürgen Stock, is tans op ‘n amptelike besoek aan Suid-Afrika. Hy het gister mobiele toestelle aan Interpol Suid-Afrika oorhandig om die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermoëns te versterk om byvoorbeeld oorgrens-misdade te bekamp. Stock het aan die SABC gesê dis belangrik om inligting te deel en sodoende georganiseerde misdaadgroepe te stuit:
# Die DA verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat artikels 35 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering as ongeldig en ongrondwetlik verklaar het. Ingevolge die artikels sou die staat die mag gehad het om te bepaal waar mediese praktisyns kan praktiseer. Die beslissing is nou na die Konstitusionele Hof vir bekragtiging verwys. Die DA sê hy was nog altyd verbind tot universele gehalte-gesondheidsorg vir alle burgers, maar hy bly by sy standpunt dat die Nasionale Gesondheidsversekering nie die platform daarvoor is nie.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het gisteraand ʼn klopjag uitgevoer by die Johannesburgse Korrektiewe Sentrum wat as Sun City bekendstaan. Hulle het onder meer beslag gelê op selfone, dagga, skroewedraaiers, messe en wifi-versenders wat in selle gevind is. Korrektiewe Dienste se nasionale kommissaris, Makgothi Thobakgale, sê hulle wil handel met smokkelware in die tronk uitwis:
# President Joe Biden sê hy het sy herverkiesingsveldtog laat vaar om sy party en die land te verenig. Hy het die land uit die Oval Office toegespreek nadat hy verlede naweek opsy gestaan het as die Demokrate se kandidaat vir die presidentsverkiesing in November. Dit volg na toenemende kommer oor sy geskiktheid vir die amp. Hy sê hy sal die volgende ses maande daarop fokus om sy werk te doen. Dit sluit in dat hy die reg om te stem en die reg om te kies verdedig, en haat-ekstremisme aan die kaak stel:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het die 2034-winterspele aan Salt Lake City toegeken maar waarsku die stad kan dit verloor as Amerika volhou met sy stryd teen die Wêreldagentskap teen Verbode Middels. Salt Lake City, wat die Spele in 2002 aangebied het, was die enigste kandidaat vir die Spele. Die voorsitter van die IOK se regskommissie, John Coates, sê die gasheerstad se kontrak is verander om die komitee toe te laat om die Spele te onttrek as die Amerikaanse owerhede nie die opperheerskappy van WADA respekteer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-149-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….