Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau sê Suid Afrika onderhandel deur diplomatieke kanale om sy status as ‘n begunstigde van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te behou. Hy sê vroeë en langtermyn-hergoedkeuring van die Amerikaanse wetgewing sal beleidsekerheid vir beleggers bied.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die Hooggeregshof in Pretoria se beslissing om dele van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik te verklaar. Die hof het onder meer beslis dit is onwettig vir die regering om te beperk waar dokters mag praktiseer.
En tweedens word berig oor die hofverskyning van die geskorste vroedvrou en verpleegster, Yolande Maritz Fouchee. Sy het verskyn op 10 aanklagte en die saak is uitgestel vir die finalisering van die akte van beskuldiging.
# Sowetan:
Berig daar is talle gate in die staat se saak teen die beskuldigdes in die Senzo Meyiwa-moordsaak. Dit hou verband met selfoondata en die vermeende moordenaars se bande met Meyiwa se meisie, Kelly Khumalo.
# En The Citizen:
Skryf die VSA is bekommerd oor sogenaamde terreurfondse in Suid-Afrika.
En berig oor die Parlement se oorsigrol oor die Presidensie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering.
En tweedens skryf die koerant die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester het die Hooggeregshof in Bloemfontein genader oor sy arrestasie in Tanzanië en ‘n regverdige verhoor.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die hofbeslissing oor NGV.
En tweedens is daar nuus oor die 63-jarige Mariaan Janse van Rensburg wie se woonwa in Kays-woonwapark in die Strand in puin gelê is deur ‘n brand. Sy het al haar besittings verloor en van haar troeteldiere het ook doodgebrand.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die tussenverkiesings wat op 14 Augustus in twee belangrike wyke in Nelson Mandelabaai gehou word, gaan bepalend wees.
En skryf verdagtes wat ‘n pandjieswinkel in Gqeberha beroof het, het hulle vasgeloop in kolonel Kanna Swanepoel en sy span.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig oor die uitwerking van die litium-mynbedryf op landelike inwoners in KwaZulu-Natal.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velinkosi Hlabisa sê daar is geen rede om wanfunksionele munisipaliteite te behou wat nie aanspreeklikheid aanvaar nie.
En berig Suid-Afrika se spanne is gereed vir die Olimpiese Spele.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig met ‘n verwoestende droogte en skuld van nagenoeg twee-miljard-rand wat ingesamel moet word, het Namwater steeds ambisieuse planne vir die toekoms.
En tweedens skryf die koerant die Hoërhof het uitspraak in die saak oor die Ukwangali Tradisionele Owerheid en die kommunale grond waarop die Kavango Cattle Ranch bedryf word, tot 2 Augustus uitgestel.