Nuus 07:00
BULLETIN 25 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê die Departement van Water en Sanitasie se plan bied nie werklike oplossings nie
# Transnet ontvang ‘n lening van 18,85-miljard-rand
# En Olimpiese Spele: Jannik Sinner onttrek met mangelontsteking
# AfriForum sê die Departement van Water en Sanitasie se planne vir watersekerheid en sanitasie-dienslewering sal nutteloos wees as werkbare planne om munisipale verspreidingsnetwerke op te gradeer, nie ingesluit word nie. Die departement het landwyd tans 14 groot infrastruktuurprojekte van meer as 100-miljard-rand aan die gang. AfriForum se woordvoerder, Marais de Vaal, sê die departement se huidige plan bied nie oplossings vir die watervoorsieningskrisis nie:
# Die Afrika Ontwikkelingsbank sê Transnet het op sekere belangrike gebiede vordering gemaak. Dit sluit hervorming in bestuursverkryging en finansiële bestuur in. Die bank het ‘n korporatiewe lening van 18,85-miljard-rand aan Transnet goedgekeur vir sy herstel- en groeiplanne. Die lening van 25 jaar word ten volle deur die regering gewaarborg. Die staatsinstelling het bedryfsprobleme ervaar, veral in die spoor- en hawe-afdelings. Hy het ook deurgeloop onder diefstal en vandalisme, en rampe soos oorstromings en die gevolge van die Covid-19-pandemie. Transnet sê hy wil bedryfsprestasie in al sy sektore herstel.
# Die Drieledige Vryhandelsgebied-ooreenkoms tree vandag in werking. Dit verenig die Oos-Afrikaanse Gemeenskap, SAOG en die Gemeenskapsmark vir Oos- en Suider-Afrika in ‘n enkele mark. Dit volg na die indiening van die bekragtigingsdokumente deur minstens 14 uit 29 lidstate, insluitende Angola, Botswana, Kenia en Suid-Afrika. Die ooreenkoms moet ekonomiese integrasie versnel, volhoubare ontwikkeling nastreef en armoede verlig om by te dra tot die breër doelwitte van die Afrika-unie.
# Die Stad Tshwane waarsku inwoners oor moontlike omkoop-swendelary deur individue wat voorgee hulle is inkomste-invorderaars. Die munisipaliteit het berigte ontvang van individue, wat voorgee hulle is werknemers van die stad, met gemerkte voertuie en geldige dokumentasie, wat betaling eis in ruil dat dienste nie ontkoppel word nie. Kliënte word aangeraai om betalings slegs deur amptelike munisipale kanale te maak. ‘n Woordvoerder, Lindela Mashigo, waarsku afpersers sal vervolg word:
# Die DA in eThekwini doen ʼn beroep op die stadsbestuurder, Musa Mbhele, om wetstoepassers te ontplooi by Durban se vaste-afvaldepots reg oor die munisipaliteit. Dit volg na ʼn staking deur werkers van die Uitgebreide Openbarewerkeprogram. Hulle eis om by die munisipaliteit ingekontrakteer te word nadat hulle volgens berigte ingelig is hulle kontrakte word nie die einde van hierdie maand hernu nie. Thabani Mthethwa van die DA sê dienslewering word ernstig geraak:
# Olimpiese Spele: Tennis se wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het hom aan die Parys-spele onttrek weens mangelontsteking. Die Italianer het Maandagaand simptome begin toon ná ‘n oefenweek in Monaco. Nadat hy deur sy spandokters ondersoek is, is hy aangeraai om te onttrek. Sinner, wat sy eerste Grand Slam-titel in Januarie by die Australiese Ope gewen het, sê dit is ‘n groot teleurstelling aangesien dit een van sy hoofdoelwitte vir die seisoen was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-244-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-378-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….