Nuus 06:00
BULLETIN 25 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op eenheid en vertroue in demokrasie
# Dele van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering word ongrondwetlik verklaar
# En Olimpiese Spele: Die Blitsbokke kan vroeg terugkeer huis toe ná nederlae teen Ierland en Nieu-Seeland
# President Cyril Ramaphosa vra hernude eenheid en vertroue in demokrasie te midde van die huidige uitdagings. Hy het gepraat tydens die begrotingsdebat oor die Presidensie en erken daar is wydverspreide ontnugtering en frustrasie onder die publiek, en sê daar is ‘n afname in kiesers se deelname en stygende ekstremisme. Met lede van die Parlement wat voorberei om vandag oor die begroting te stem, het Ramaphosa politieke leiers en burgers aangemoedig om saam te werk om geloof in demokrasie te herstel en om die grondwetlike belofte van waardigheid en gelykheid te bereik:
# Die vakbond Solidariteit verwelkom die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat afdelings 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik verklaar. Die hof het beslis dit is onwettig vir die regering om te beperk waar dokters mag praktiseer, wat die NGV se omstrede behoeftesertifikate ongeldig maak. Die Departement van Gesondheid is beveel om die vakbond se regskoste te betaal. Dirk Hermann van Solidariteit onderneem om steeds te veg teen die wet se sentralisering van gesondheidsfondse:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het die afgedankte groepsbestuurshoof, Zolani Matthews, weer aangestel ná ‘n uitgerekte regstryd in die Arbeidshof. Vroeër die maand het die hof Prasa se aansoek om Matthews se aanstelling te keer, van die hand gewys. Hy is in 2021 afgedank omdat hy dubbele burgerskap gehad het, wat volgens Prasa ‘n wesenlike oortreding is omdat hy dit nie bekend gemaak het nie. Dit is onduidelik wat met die huidige bestuurshoof, Hishaam Emeran, gaan gebeur. Prasa sê hy betrek Matthews nou om die uitwerking van die uitspraak te bespreek.
# Die borgtogaansoek van twee mense wat daarvan beskuldig word dat hulle die voormalige wêreldkampioen in hoogspring, Jacques Freitag, vermoor het, word eers volgende Woensdag in die Landdroshof in Pretoria aangehoor. Onteerde prokureur, Rudi Lubbe, en sy jare lange vriendin, Shantelle Oosthuizen, is in Mpumalanga aangekeer terwyl hulle voortvlugtend was, nadat Freitag se liggaam vroeër vandeesmaand in die hoofstad gevind is. Hulle staan ook tereg op sameswering om Oosthuizen se verloofde, Louis Harmse, te vermoor. Freitag het hom verlede maand na bewering met ‘n baksteen aangerand.
# Afrika sal Asië teen 2030 verbysteek as die vasteland met die grootste aantal mense wat honger ly in die wêreld. Dit is volgens die Verenigde Nasies se verslag oor voedselsekerheid en voeding in die Wêreld-verslag. In 2023 het 384,5-miljoen mense in Asië hongersnood in die gesig gestaar, vergeleke met 298,4-miljoen in Afrika. Ongeveer 733-miljoen mense wêreldwyd het verlede jaar honger gely. Konflik, die klimaat en die hoë koste laat voedsame kos buite die bereik van miljoene. Die VN waarsku die wêreld gaan nie hongersnood teen 2030 uitwis nie.
# Olimpiese Spele: Die Springbok-sewes het gister albei hulle groepwedstryde verloor op die eerste dag van die Rugby-sewestoernooi in Parys. Hulle het met 10-5 teen Ierland verloor en daarna met 17-5 teen Nieu-Seeland die knie gebuig. Die Blitsbokke kan steeds die kwarteindronde haal as twee van die beste geplaaste spanne in die derde plek. Hulle moet egter vandag Japan klop en hoop die ander uitslae tel in hulle guns. Afrigter Philip Snyman sê hulle moet beter speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-441-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-398-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….