Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê doeltreffende bestuur en hervorming is deurslaggewend vir ekonomiese volhoubaarheid
# Thabo Bester en sy medebeskuldigdes se voorverhoor word uitgestel na ‘n regsverteenwoordiger onttrek
# En, die Olimpiese Spele: Kanada vra om verskoning na ‘n hommeltuig gebruik is om te spioeneer op Nieu-Seeland se vroue-sokkerspan
# President Cyril Ramaphosa sê doeltreffende bestuur en strategiese hervormings is deurslaggewend vir Suid-Afrika se ekonomiese volhoubaarheid. Hy het reageer op die debat oor die Presidensie se begroting, en die sewende administrasie se rol uitgelig in die vooropstel van ontwikkeling en die instelling van beleid. Parlementslede stem môre oor die begroting. Ramaphosa het die gebruik verdedig van koördinerende komitees en programme soos Operasie Vulindlela:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof het die voorverhoor-konferensie van die veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, en sy medebeskuldigdes tot volgende Woensdag uitgestel. Dit volg na die onttrekking van die regsverteenwoordiger van beskuldigdes drie en ses, Kagisho Moruri, wat sê daar was geen finansiële opdragte nie. Die regspan van beskuldigde nommer twee het na raadpleging aangebied om die twee te verteenwoordig. Adjunkregterpresident Cagney Musi het die saak uitgestel:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, raai Pretoria High School for Girls aan om gereelde dialoog aan te bied oor ras en rassisme. Die oproep volg na die skorsing van 12 leerders vir beweerde rassistiese gedrag. Makaneta glo nie slegs dissiplinêre maatreëls kan rassisme bekamp nie. Hy raai die regering aan om diversiteitsopleiding vir personeel in te stel en duidelike teen-rassismebeleid te vestig wat sal lei tot ‘n veilige, eerbiedige leeromgewing vir almal:
# Olimpiese Spele: Nieu-Seeland het ‘n klagte teen Kanada ingedien by die Internasionale Olimpiese Komitee se Integriteitseenheid nadat sy vroue-sokkerspan se voorbereiding in St Etienne deur ‘n hommeltuig onderbreek is. Dit is beheer deur ‘n personeelllid van die Kanadese span teen wie hulle môre in Groep A speel. Die Olimpiese Komitee van Nieu-Seeland sê die voorval is by die Franse polisie aangemeld, wat die operateur aangehou het. Span Kanada het sedertdien om verskoning gevra en ondersoek die aangeleentheid.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-488-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Ondersoek deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese het bevind binnenshuise vuurmaakplekke stel skadelike deeltjies vry wat gesondheidsgevare inhou. Navorsers het gevind die hoeveelheid deeltjies van sulke vuurmaakplekke is hoër as die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyn en hou gevaar in vir vroeë sterftes en belemmerde longfunksie by kinders. ‘n PhD-student, Rita van der Walt, beklemtoon dat langdurige blootstelling aan dié deeltjies veral gevaarlik is vir mense met chroniese hart- of longtoestande. Die navorsing beklemtoon die behoefte vir bewusmaking oor die gesondheidsgevare van binnenshuise vuurmaakplekke, en vra verdere navorsing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….