Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse Tesourie stel sanksies in teen vermeende agente van Islamitiese Staat in Suid-Afrika
# Thabo Bester se nuwe regspan vra ‘n billike verhoor
# En, die Olimpiese Spele: Die Franse rugbyster, Antoine Dupont, kan ‘n nuwe geslag ondersteuners lok en fokus op die Sewes plaas
# Die Amerikaanse Tesourie het sanksies ingestel teen twee beweerde agente van Islamitiese Staat in Suid-Afrika en sê hulle gebruik rooftogte en ontvoerings om die terreurgroep te befonds. Volgens Amerika is Abubakar Swalleh bedrywig in Suid-Afrika en Zambië, en Zayd Gangat word verbind met ‘n wyer ISIS-netwerk oor Afrika. Leiers van ISIS in Suid-Afrika gebruik nog altyd rooftogte, afpersing en ontvoering vir ‘n losprys om geld in te samel vir die groep. Die sanksies bevries hulle bates in Amerika en verbied Amerikaanse burgers om met hulle sake te doen.
# Die nuwe regspan van die Facebook-moordenaar Thabo Bester vra ‘n billike verhoor en het ‘n mosie ingedien oor jurisdiksie en toegang tot raadpleging. Hulle wys op Bester se reg tot regsverteenwoordiging vir die voorverhoor en die verhoor. Die adjunkregterpresident van die Vrystaatse Hooggeregshof, Cagney Musi, hou vol die aansoek is nie voor die hof nie en die saak moet aandag geniet:
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, verwelkom die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinsake. Dit maak die regering se steundienste aan klein- en medium-ondernemings meer vaartbelyn, as deel van die verbreding van deelname aan die ekonomie deur meer Suid-Afrikaners. Cornelius Monama van die departement sê die gebrek aan doeltreffende en bekostigbare toegang tot ‘n regverdige meganisme vir kleinsake was ‘n bron van kommer vir diegene in die kleinonderneming-ekostelsel:
# Olimpiese Spele: Die Franse rugbyster, Antoine Dupont, kan ‘n nuwe geslag ondersteuners lok en Sewes-rugby stewig in die kollig plaas. Dis volgens die voormalige Franse vleuel, Vincent Clerc. Die skrumskakel is gekritiseer oor sy besluit om die Sesnasiesreeks mis te loop om die Olimpiese span te haal, maar het bygedra om Frankryk te help om twee oorwinnings in die Wêreldrugby Sewes-reeks te behaal, insluitend die eindstryd in Madrid. Hy het tussendeur vir Toulouse in die 15-man-dissipline aangevoer tot oorwinnings in die Top 14 en Kampioenebeker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-513-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-412-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die eerste geval van hondsdolheid in Mosselbaai is bevestig na die ontleding van ‘n Kaapse pelsrob wat vankant gemaak is nadat hy by ‘n gewilde swemstrand tekens van die siekte getoon het. Die Gestrande Marienedier-reddingspan en amptenare van die plaaslike munisipaliteit het opgetree om openbare gesondheid te beskerm. Die munisipaliteit sal waarskuwingstekens oprig by strande en doen ‘n beroep op inwoners om robbe te vermy. Inwoners word ook aangemoedig om ongewone gedrag onmiddellik aan te meld om die verspreiding van hondsdolheid te keer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….