Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Die Springbok-senter André Esterhuizen is vir drie wedstryde geskors ná sy rooikaart in die toets teen Portugal in Bloemfontein. Sy geelkaart vir ‘n kopstamp in ‘n plettervat op José Lima is na ‘n hersiening aangepas na rooi. Esterhuizen is vir vier weke geskors, maar dit word tot drie weke veminder indien hy Wêreldrugby se ingrypingskursus voltooi. Hy sal die skorsing tydens die Curriebekerkompetisie uitdien nadat hy uit die Rugbykampioenskaps-toer na Australië gelaat is. Hy sal vir die kragmetings met die All Blacks beskikbaar wees.
Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê intussen hulle het volle vertroue in die spelers om van rat te verwissel in die Rugbykampioenskap, wat op die tiende van volgende maand in Brisbane teen die Wallabies afskop. Die groep bestaan uit 22 Wêreldbeker-wenners en vyf nuwelinge wat vanjaar hul buiging gemaak het. Erasmus sê die groep, wat ‘n mengsel van jeug en ervaring insluit, is die beste groep spelers wat hulle vir hierdie moeilike uitdaging kon kies.
Die Olimpiese Sewes-kompetisie vir mans begin vandag op die Stade de France in Parys. Suid-Afrika speel vanmiddag halfses sy eerste wedstryd in Groep A teen Ierland en 9.30 vanaand teen die All Blacks. Die groepwedstryd teen Japan begin môremiddag vier-uur. Die kwarteindronde is môreaand en die halfeindstryde en eindstryd vind Saterdag plaas. Die kompetisie vir vroue begin Sondag, met die eindstryd Dinsdag.
# Nou, gholf: Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen, wat Suid-Afrika op die Spele verteenwoordig, het albei onderneem om in November te speel in die Nedbank-uitdaagtoernooi op die Gary Player-buiteklub by Sun City in Noord-Wes. Dit sal albei spelers se derde verskyning in die toernooi wees, wat bekendstaan as Afrika se Major. Die toernooi het sedert 2017, toe Branden Grace gewen het, nog nie weer ‘n plaaslike kampioen opgelewer nie. Die 66 spelers in vanjaar se toernooi deel prysgeld van 110-miljoen-rand.
# En ten slotte: Die Internasionale Federasie vir Perdesport het Brittanje se vroueruiter met die gesamentlike meeste Olimpiese medaljes, Charlotte Dujardin, voorlopig vir ses maande geskors. Dit volg op beeldmateriaal wat wys hoe die dressage-ruiter ‘n perd verskeie kere oor sy been slaan tydens afrigting. Die 39-jarige ruiter, wat ses dressage-medaljes in Londen, Rio en Tokio verower het, het haar aan die Paryse Spele onttrek. British Equestrian sê die bewerings teen Dujardin is ernstig en die uitwerking daarvan verreikend, maar die integriteit van die sport geniet voorrang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….