Nuus 07:00
BULLETIN 24 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bepleit nuwe benaderings tot infrastruktuurbefondsing
# Voormalige Transnet-direkteure is in die hof oor bedrog van 34-miljoen-rand
# En die direkteur van die Amerikaanse Geheimediens bedank
# President Cyril Ramaphosa het bekendgemaak die Infrastruktuurfonds sal nuwe benaderings ten opsigte van gemengde finansiering vir infrastruktuurprojekte ondersoek. Hierdie inisiatief moet vinnige en inklusiewe ekonomiese groei aanvuur, werk skep, armoede verlig en ’n regverdige samelewing kweek. Ramaphosa het gewys op die belangrikheid van samewerking met die privaatsektor deur middel van Infrastruktuur Suid-Afrika om belegging en implementering in infrastruktuur te verbeter:
# EFF-leier Julius Malema het sy oproep herhaal dat die Kabinet verklein word en daar weggedoen word met adjunkministers. Kabinetsministers het van 30 tot 32 toegeneem en daar is nou 43 in plaas van 36 adjunkministers in die regering van nasionale eenheid. Die oorgroot kabinet kan na raming heelwat meer as 1,5-miljard-rand kos. Malema sê die groot Kabinet plaas meer druk op belastingbetalers:
# Voormalige uitvoerende beamptes by Transnet, Lerato Makenete en Hawkins Madubane, het in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Johannesburg verskyn op aanklag dat hulle Transnet tydens die Covid-19-pandemie met 34-miljoen-rand bedrieg het. Hulle word aangekla saam met Jacob Malusi Ramoyadi en Kenneth Rikhotso. ‘n Woordvoerder van die NVG, Phindi Mjonondwane, sê hulle word aangekla van bedrog, diefstal en geldwassery:
# Die direkteur van die Amerikaanse Geheimediens, Kimberly Cheatle, het bedank na die sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump by ‘n verkiesingsaamtrek in Pennsilvanië. Alle partye in die Kongres het haar bedanking gevra en Republikeinse wetgewers wou ʼn ampsklag teen haar indien vir die gebrekkige sekuriteit tydens die voorval. Sy sê in haar bedankingsbrief sy erken die agentskap het op die dag van die sluipmoordpoging gefaal om Trump te beskerm. President Joe Biden sê hy is dankbaar vir Cheatle se dekades in die openbare diens.
# Olimpiese Spele: Brittanje se bekroonde Olimpiese vroue-deelnemer, Charlotte Dujardin, het aan die Spele in Parys onttrek. Dit volg ná ʼn video verskyn het waar sy blykbaar ʼn perd tydens ʼn afrigtingsessie mishandel. Die Internasionale Federasie vir Perdesport ondersoek die voorval. Die dressuur-ruiter sou Brittanje se mees bekroonde Olimpiese vrouedeelnemer in Parys word. Dujardin sê wat gebeur het, is glad nie hoe sy is nie en ook nie ʼn weerspieëling van die manier waarop sy haar perde afrig of leerlinge hanteer nie. Sy sê sy is baie skaam hieroor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-578-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-409-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is aangewys as die derde beste Afrikaland om met kinders te besoek. ʼn Studie deur die toeroperateur, Go2Africa, sê die land het ʼn goed ontwikkelde toerisme-infrastruktuur en word beskou as ‘n veilige reisbestemming vir gesinne. Die Seychelle is die kinder-vriendelikste land in Afrika en die wêreld. Dit spog met die gesins-vriendelikste hotelle, besienswaardighede en restaurante wat dit die voorkeur-reisbestemming vir ouers maak. Marokko is tweede in Afrika met Namibië en Madagaskar onderskeidelik vierde en vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….