Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onderteken die Wet op Openbare Verkryging
# Die Parlement stel die koepeltent wat vir Mandela se begrafnis gebruik is voor om sittings tydelik aan te bied
# En, die Olimpiese Spele: Die Blitsbokke glo hulle kan ‘n medalje vir Span SA inoes
# President Cyril Ramaphosa het wetgewing onderteken wat ‘n enkele raamwerk skep vir die regulering van openbare verkryging in alle staatsinstellings. Die Wet op Openbare Verkryging het ten doel om doeltreffendheid, koste-doeltreffendheid en integriteit van verkrygingsprosesse te verseker en om korrupsie van die verlede uit te skakel. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die wet bevorder deursigtigheid, tegnologiese doeltreffendheid en ekonomiese ontwikkeling deur plaaslike goedere en dienste voorop te stel:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het aangekondig die koepeltent wat vir Nelson Mandela se begrafnis gebruik is, sal tydelik vir parlementêre sake gebruik word terwyl die Nasionale Vergadering herbou word. Sy het in haar begrotingstoespraak gesê sy ontmoet Donderdag die minister van Infrastruktuur, Dean Macpherson, om die reëling te bevestig. Didiza beklemtoon die gebrek aan ‘n permanente vergaderplek kortwiek parlementêre funksies:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Suid-Afrika fokus daarop om ambisieuse stappe in te stel om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder. Dit sluit pogings deur die Billike Energieoordrag-beleggingsplan in. Die minister het die agste sitting van die ministeriële vergadering oor klimaatsverandering in Wuhan, China, toegespreek. George sê die land bly verbind om sy regverdige bydrae te lewer om die klimaatskrisis te hanteer, asook die ekonomiese oorgang na ‘n laekoolstof-toekoms.
# Olimpiese Spele: Die Springbok-Sewes begin môre hulle veldtog teen Ierland in Parys. Suid-Afrika het op die nippertjie gekwalifiseer en hulle fokus is nou om ‘n medalje te wen. Die Blitsbokke is in Groep-A, wat ook Nieu-Zeeland en Japan insluit. Die afrigter, Philip Snyman, glo hulle kan ‘n teleurstellende seisoen omkeer en ‘n medalje vir Span Suid-Afrika inoes:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-643-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-409-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Ezemvelo KZN Wildlewe berig ‘n aansienlike daling in renosterstroping sedert daar in in April met ‘n onthoring-veldtog begin is. Voorheen is 30 tot 40 renosters maandeliks gestroop, maar dit het afgeneem tot gemiddeld vyf per maand vir Mei tot Julie. Woordvoerder Musa Mntambo sê Ezemvelo het begin met die oprigting van ‘n nuwe slimheining by die Hluhluwe-iMfolozi-park om renosterstroping te bekamp. Hy sê die bewaringsliggaam neem ook heining-wagte uit plaaslike gemeenskappe in diens om daagliks die grensheinings te patrolleer en enige skade te herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….