Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n sterk groep van 33 spelers onder aanvoering van die dubbele Wêreldbeker-kaptein, Siya Kolisi, aangewys vir die Rugby-kampioenskap wat op die tiende van volgende maand in Brisbane teen die Wallabies afskop. Twee-en-twintig van die spelers is Wêreldbeker-wenners, terwyl vyf wat hulle debuut vanjaar gemaak het, ook ingesluit is – Jan-Hendrik Wessels, Johan Grobbelaar, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Ben-Jason Dixon en Morné van den Berg. Daar is ook ‘n terugkeer vir die slot Ruan Nortjé, wat sy Springbok-debuut in 2022 teen Wallis gemaak het.
Die Springbok-Sewes begin môre hulle Olimpiese veldtog teen Ierland in Parys. Suid-Afrika het op die nippertjie gekwalifiseer en hulle fokus is nou om ‘n medalje te wen. Die Blitsbokke is in Groep-A, wat ook Nieu-Zeeland en Japan insluit. Die afrigter, Philip Snyman, glo hulle kan ‘n teleurstellende seisoen omkeer en ‘n medalje vir Span Suid-Afrika inoes:
Die Tour de France-fietsrykampioen, Tadej Pogačar, gaan nie aan die Spele deelneem nie. Die Sloweense Olimpiese Komitee sê hy is weens uitputting nie gekies nie, nadat hy Sondag sy derde Tour de France gewen het. Pogačar en die Nederlander, Mathieu van der Poel, was gunstelinge vir die Olimpiese padwedren wat op die derde van volgende maand plaasvind. Pogačar word vervang deur sy kollega in die nasionale span, Domen Novak. Die verdedigende Olimpiese kampioen, Richard Carapaz van Ecuador, is ook nie gekies nie.
Israel se deelnemers aan die Spele gaan intussen 24-uur beskerming kry te midde van spanning in die Gazastrook. Dit volg nadat die verlinkse wetgewer Thomas Portes gesê het die Midde-Oosterse land se atlete is nie welkom in Frankryk nie, en betogings gevra het teen hulle deelname. Die byeenkoms word gehou 52 jaar nadat elf Israeli’s in 1972 tydens die Spele in München in Duitsland dood is in ‘n terroristeaanval. ‘n Gedenkdiens vir die slagoffers is verskuif van die stadsaal in Parys na die Israelse ambassade.
# En, ons sluit af met krieket: Die beheerliggame van Amerika en Chili het 12-maande om hulle nie-voldoening aan die Internasionale Krieketraad se lidmaatskapsreëls reg te stel. Die wêreldliggaam het hulle gewaarsku omdat hulle nie pasgemaakte, gedetailleerde bestuurs- en administratiewe strukture en -stelsels het nie. Die IKR sê hy behou hom die reg voor om ‘n lid te skors of uit te skop vir volgehoue nie-voldoening. Die besluit is geneem op die jaarkonferensie in Colombië, waar die IKR besin het hoe hy kan munt slaan wanneer T20-krieket in 2028 ‘n Olimpiese sport word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….