Nuus 11:00
BULLETIN 23 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê die regering van nasionale eenheid verswak die Parlement se aanspreeklikheidsrol
# Kamala Harris verdien genoeg steun van afgevaardigdes vir die Demokrate se benoeming as presidentskandidaat
# En, Olimpiese Spele: Alcaraz sal Nadal die leiding laat neem in hulle dubbelspelwedstryde in Parys
# Build One South Africa sê die regering van nasionale eenheid het ‘n onbedoelde gevolg wat die Parlement se aanspreeklikheidsrol verswak. Sewentig persent van die Parlement is tans deel van die regering van nasionale eenheid en een uit elke vyf parlementslede is ministers of adjunkministers. BOSA se onderleier, Nobuntu Hlazo-Webster, sê die regering moenie aanspreeklikheid opoffer vir eenheid in die regering nie:
# Die vakbondfederasie Saftu het die Departement van Hoër Onderwys beskuldig dat hy onverantwoordelik is nadat hy 580-miljoen-rand se fondse wat nie bestee is nie, na die Nasionale Tesourie teruggestuur het. Dit het gebeur tydens die ampstermyn van die voormalige minister, Blade Nzimande. Die geld kon nege-duisend-en-71 studente vir ‘n volle akademiese jaar onderhou het. Die departement het terselfdertyd jaarliks sewe-miljoen-rand aan 30 geskorste werknemers betaal. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die onderbesteding is wanbestuur aan die kant van die departement:
# Die EFF in Gauteng verwelkom die skuldigbevinding van twee mans wat ‘n raadslid van die party in Ekurhuleni, Koketso Mojatau, vermoor het. Die twee was in April verlede jaar betrokke by die kaping van en moord op Mojatau in Katlehong. Die EFF sê die pynlike werklikheid is dat misdaadvlakke, veral geweldsmisdaad soos moord en gewapende roof, sedert Koketso se moord steeds skerp styg in die provinsie. Hy herhaal sy versoek dat misdaadstrategieë voorkomend eerder as reaktief moet wees.
# Amerika se visepresident, Kamala Harris, het genoeg Demokratiese afgevaardigdes se ondersteuning gekry om as die party se presidentskandidaat benoem te word. Sy het meer as die een-duisend-976 wat sy nodig het vir die benoeming op die eerste stembrief. Harris kan eers volgende maand op die Demokrate se nasionale konvensie amptelik as kandidaat benoem word. Sy het by die verkiesings-hoofkwartier in Delaware gesê sy wil die party en Amerika verenig, en Donald Trump van die Republikeine verslaan:
# Olimpiese Spele: Die heersende Wimbledon- en Franse Ope-tenniskampioen, Carlos Alcaraz, sê hy sal sy legendariese landgenoot Rafael Nadal die leiding laat neem wanneer hulle in die dubbelspel in Parys speel. Die 21-jarige wêreld nommer drie sê hulle sal eers taktiek bespreek wanneer hulle in die Franse hoofstad aankom. Die kompetisie vind plaas op Roland Garros, waar die 38-jarige Nadal 14 van sy 22 Grand Slam-titels ingepalm het. Alcaraz, wat vier Grand Slam-toernooie gewen het, sê hy’s nog nat agter die ore terwyl Nadal reeds spog met twee goue medaljes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-494-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….