Nuus 09:00
BULLETIN 23 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê die Departement van Hoër Onderwys is onverantwoordelik met die onderbesteding van R580-miljoen
# Die DA in Gauteng is bekommerd oor ‘n tekort aan entstof vir Afrika-perdesiekte
# En, tennis: Vondrousova en Hurkacz onttrek aan die Olimpiese Spele weens beserings
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde het die Departement van Hoër Onderwys beskuldig dat hy onverantwoordelik is na hy 580-miljoen-rand se fondse wat nie spandeer is na die Nasionale Tesourie teruggestuur het. Dit het tydens die voormalige minister Blade Nzimande se ampstermyn gebeur. Die geld kon nege-duisend-en-71 studente vir ‘n volle akademiese jaar onderhou. Die departement het terselfdertyd jaarliks sewe-miljoen-rand aan 30 geskorste werknemers betaal. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku sê die onderbesteding is wanbestuur aan die kant van die departement:
# Die Mededingingskommissie het die groen lig gekry om Sasol te vervolg oor bewerings van buitensporige pryse vir aardgas. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof Sasol se aansoek vir verlof tot appèl van die hand gewys het. Die saak handel oor bewerings dat Sasol byna ‘n dekade lank gaspryse gelaai het. Die kommissie se voorlopige bevindings dui daarop dat die chemiese en energiemaatskappy pryse met tot 72-persent opgestoot het. Sasol sê hy oorweeg die mees gepaste manier om voort te gaan.
# Die DA in Gauteng het kommer uitgespreek dat perdetelers en -eienaars weereens ʼn ernstige tekort aan entstof teen Afrika-perdesiekte in die gesig staar. Daar is onlangs slegs 120 entstofdosisse beskikbaar gestel. Die entstof word uitsluitlik deur Onderstepoort Biological Products vervaardig. Dis ʼn staatsinstelling wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van noodsaaklike entstof vir diere in die land. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê die huidige tekort word toegeskryf aan tipiese probleme by staatsondernemings soos produksie en logistiek:
# Hongarye het die Europese Unie se besluit om sy volgende vergaderings van buitelandse en verdedigingsministers van Boedapest na Brussel te verskuif, as uiters kinderagtig beskryf. Die verskuiwing is weens die Hongaarse eerste minister, Viktor Orbán, se standpunt oor die oorlog in Oekraïne. Hy het onlangs gesê die EU volg ʼn pro-oorlogsbeleid met sy ondersteuning aan Oekraïne. Die Europese Raad se president, Charles Michel, het Orbán se bewerings verwerp en sê Rusland is die aggressor en Oekraïne die slagoffer wat sy wettige reg tot selfverdediging uitoefen.
# Tennis: Die heersende Olimpiese silwermedaljehouer, Marketa Vondrousova, gaan die Spele in Parys weens ‘n handbesering misloop. Sy sou aan die enkelspel en ook in die dubbelspel saam met Karolina Muchova, as deel van die Tsjeggiese span deelneem. Die span sluit ook die nuwe Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova, in. Die wêreld se nommer-sewe-speler, Hubert Hurkacz van Pole, is intussen ook uit die Spele weens ‘n kniebesering wat hy by Wimbledon opgedoen het. Olimpiese tennis begin Saterdag op Roland Garros:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-188-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-396-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….