Nuus 08:00
BULLETIN 23 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF het onderneem om steeds die uitvoerende gesag te kritiseer
# Die Konstitusionele Hof baan die weg om Sasol vir prysvasstelling te vervolg
# En, fietsry: Die Tour de France-kampioen, Tadej Pogačar, gaan nie aan die Olimpiese Spele deelneem nie
# Die EFF sê die regering van nasionale eenheid wil ‘n situasie hê waar hulle die uitvoerende gesag én oorsig is, en daardeur die opposisie uitskakel. Die regering van nasionale eenheid beheer byna 70-persent van die Parlement. Die EFF-woordvoerder Omphile Maotwe sê dis ʼn grondwetlike plig om die uitvoerende gesag te kritiseer en hulle neem dit ernstig op. Sy sê die Progressiewe Koukus is die beste ontwikkeling om parlementêre oorsig te versterk:
# Die Mededingingskommissie het die groen lig gekry om Sasol te vervolg oor bewerings van buitensporige pryse vir aardgas. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof Sasol se aansoek vir verlof tot appèl van die hand gewys het. Die saak handel oor bewerings dat Sasol byna ʼn dekade lank gaspryse gelaai het. Die kommissie se voorlopige bevindings dui daarop dat die chemiese en energiemaatskappy pryse met tot 72-persent opgestoot het. Sasol sê hy oorweeg die mees gepaste manier om voort te gaan.
# Die beleërde regter in die Gautengse Hooggeregshof, Tintswalo Makhubele, is as ʼn onbetroubare getuie beskryf. Sy word beskuldig dat sy die onafhanklikheid van die regbank ondermyn het toe sy in die dieselfde tydperk ʼn regter en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap se tussentydse raad was. Die getuienisleier, advokaat Dorian Paver, het in sy slotbetoë gesê Makhubele bedreig die onafhanklikheid van en openbare vertroue in die regstelsel:
# Die direkteur van die Amerikaanse Geheimediens, Kimberly Cheatle, sê sy neem volle verantwoordelikheid vir die mislukking om president Donald Trump op 13 Julie te beskerm. Trump het ‘n sluipmoordpoging by ‘n verkiesingsaamtrek in Butler, Pennsilvanië oorleef. Die Huis van Verteenwoordigers se Oorsigkomitee het Cheatle gister intens ondervra. Sy het erken die sluipmoordpoging is een van die grootste mislukkings van die Geheimediens in dekades:
# Fietsry: Die Tour de France-kampioen, Tadej Pogačar, gaan nie aan die Olimpiese Spele in Parys deelneem nie. Die Sloweense Olimpiese Komitee sê hy is weens uitputting nie gekies nie, nadat hy Sondag sy derde Tour de France gewen het. Pogačar en die Nederlander, Mathieu van der Poel, was gunstelinge vir die Olimpiese padwedren wat op die derde van volgende maand plaasvind. Pogačar word vervang met sy kollega in die nasionale span, Domen Novak. Die verdedigende Olimpiese kampioen van Ecuador, Richard Carapaz, is ook nie gekies nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-617-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-398-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….