Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Herman Mashaba sit sy voorwaardes uiteen vir ‘n vennootskap met die ANC in Johannesburg
# Slotbetoë in ‘n geskorste regter se tribunaalverhoor word tot Woensdag aangehoor
# En, tennis: Rafael Nadal is nie tevrede met sy spelpeil nadat hy die eindstryd in Bastad verloor het nie
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het sy voorwaardes uiteengesit vir ‘n vennootskap met die ANC in Johannesburg. Mashaba eis die verwydering van burgemeester Kabelo Gwamanda, die kansellasie van die 200-rand elektrisiteitsheffing, die terugneem van gekaapte geboue vir bekostigbare behuising, en steun vir die verkiesing van ‘n ActionSA-speaker in Tshwane. Ondanks vorige beloftes om nooit met die regerende party saam te werk nie, hou Mashaba vol die vennootskap is die sleutel tot die uitroei van korrupsie in Johannesburg:
# Slotbetoë het begin in die saak teen die geskorste regter van die Gautengse Hooggeregshof, Tintswalo Makhubele, voor die Regterlike Gedragstribunaal. Getuienisleiers en die burgerlike organisasie Unite Behind sit oor die volgende drie dae hulle betoë uiteen. Makhubele word beskuldig van die ondermyning van regterlike onafhanklikheid deur gelyktydig as ‘n regter en die tussentydse voorsitter van die raad van PRASA te dien. Indien sy skuldig bevind sou word, kan die Nasionale Vergadering haar in ‘n staat van beskuldiging plaas.
# Die DA sê die land se nimmereindigende vloek van geslagsgeweld en huishoudelike mishandeling is kommerwekkend. ‘n Negentienjarige man is onlangs op video vasgevang waar hy sy 82-jarige ouma in Kraaifontein, Kaapstad, aangerand het. In Mpumalanga is ‘n 83-jarige vrou in Dikweteng verkrag en aangerand. DA-woordvoerder Angel Khanyile sê een van die grootste struikelblokke in die stryd teen geslags- en gesinsgeweld is die gebrekkige begroting wat verhoed dat die gevalle voorkeur geniet:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, is op pad na Washington vir ‘n deurslaggewende toespraak voor die Amerikaanse Kongres. Hy noem die besoek ‘n baie belangrike reis te midde van groot politieke onsekerheid nadat president Joe Biden besluit het om nie vir herverkiesing te staan nie en Washington wat druk op Israel plaas vir ‘n skietstilstand met Hamas. Israel se langsdienende premier sal Woensdag die eerste buitelandse leier word wat ‘n gesamentlike sitting van die twee huise vier keer toespreek. Winston Churchill van Brittanje het dit drie keer gedoen.
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Rafael Nadal, sê hy is ontevrede met sy spelpeil in Bastad, Swede, maar gelukkig was dit sonder enige beserings. Die Spanjaard het teen Nuno Borges van Portugal verloor in die eindstryd van die Sweedse Ope, waar hy voorberei het vir die Olimpiese Spele. Die 38-jarige sê sy spelpeil en energie was glad nie na wense nie, maar hy het lanklaas vier dae na mekaar lang wedstryde gespeel. Hy en sy jong landgenoot, Carlos Alcaraz, beplan om die dubbelspel in Parys aan te durf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-417-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….