Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Zeitz-museum van Moderne Kuns se Afrikasentrum vir Kunsonderrig in Kaapstad het sy eerste kinderboekreeks bekendgestel. Die vier stories in die reeks is The Tale of Mouse and the Stories that Ran Away, First Light, Nya Nya Bulembu, en Khvum and the Crocodile Woman. Die museum sê hy hoop die boeke wat lewe gee aan Afrikastories, sal kinders se verbeeldingswêreld laat gedy. Die stel van vier boeke is beskikbaar teen 600-rand.
Die Denis Hurley-sentrum in Durban het intussen ‘n maand lange boekeveldtog van stapel gestuur en beplan om tien-duisend-en-50 tweedehandse boeke van goeie gehalte in te samel om te verkoop. Die direkteur, Raymond Perrier, sê die syfer verteenwoordig die getal dae dat wyle oudpresident Nelson Mandela in die tronk was. Hy sê hulle wil ʼn liefde vir letterkunde by hawelose mense kweek en hulle terselfdertyd help om ʼn inkomste te verdien deur boeke te verkoop. Mense kan op www.denishurleycentre.org uitvind waar aflaaipunte is.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Gesondheid en Welsyn, Mireille Wenger, sê die nuut-opgeknapte oornagsaal van tien beddens in die Eersterivier-hospitaal in Kaapstad sal ‘n groot verskil maak. Die opknapping het plaasgevind in samewerking met die hulporganisasie Gift of the Givers. Wenger sê die organisasie het reeds verskeie projekte by die hospitaal befonds, soos die bou van ‘n nuwe administratiewe gebou en die oprigting van noodgevalkamers.
# Die Stad Kaapstad is besig met die evaluering van seisoenale menseredders vir poste op strande en by swembaddens dié somer. Die jaarlikse toetsing val saam met Wêrelddag vir die Voorkoming van Verdrinking Donderdag. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die stad werf jaarliks sowat 600 seisoenale menseredders om sy kerngroep permanente senior lewensredders by te staan:
# En ten slotte: ʼn Sonbril met blou-gekleurde ronde lense van John Lennon gaan na verwagting sowat 70-duisend-rand haal wanneer dit volgende week in Engeland opgeveil word. Die Beatles se mede-hoofsanger en ritme-kitaarspeler het die bril in 1968 aan ʼn man gegee wat die Abbey Road-ateljee besoek het. Die sonbril word opgeveil saam met 33 swart-en-wit-foto’s wat in 1968 en ’69 in Abbey Road geneem is. Dit sluit ʼn album-omslag van die Beatles in waar die groep ʼn voetoorgang oorsteek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….