Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herbevestig die verbintenis tot die regering van nasionale eenheid se strategiese prioriteite
# Hoër Onderwys word gekritiseer oor die terugstuur van 580-miljoen-rand na die Tesourie in plaas van die befondsing van studente
# En, Olimpiese spele: Antoine Dupont lei die Franse sewes-rugbyspan se aanslag op goud in Parys
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van Nasionale Eenheid is toegewyd aan die strategiese belyning van sy voorkeure. Dit sluit in inklusiewe groei, werkskepping, die vermindering van armoede om die hoё lewenskoste teen te werk, en om ‘n bekwame, etiese en ontwikkelende staat te bou. Ramaphosa het op die debat oor sy openingsrede van die sewende Parlement geantwoord inklusiewe ekonomiese groei is sentraal tot die nasionale agenda:
# Die Departement van Hoër Onderwys word gekritiseer oor die terugstuur van 580-miljoen-rand na die Nasionale Tesourie in plaas van die befondsing van studente. Die bedrag sou genoeg gewees het om nege-duisend-71 studente te steun, wie se huishoudelike inkomste jaarliks tussen 350- en 600-duisend-rand is. Adjunkminister Mimmy Gondwe sê die onderbesteding is weens vakante poste. Sy moedig die hertoewysing aan vir studenteskuld en die opgradering van infrastruktuur. Kundiges is ontsteld oor die verlore geleentheid om hoër onderwys te steun, en noem dit ‘n tragedie te midde van sektorale begrotingsbesnoeiings.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê dit is belangrik om ‘n gebalanseerde klimaat-agenda op te stel vir kwessies wat kritiek is vir ontwikkelende lande en om ontwikkelde lande te dwing om hul verpligtinge na te kom. Die minister woon vandag en môre die agtste ministersvergadering oor Klimaat-optrede in Wuhan, China, by. Die woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê sleutelkwessies rakende die Verenigde Nasies se Raamwerk-konvensie oor Klimaat-verandering sal bespreek word:
# Olimpiese Spele: Frankryk se rugbykaptein, Antoine Dupont, het sy kritici stilgemaak omdat hy aan die Sesnasiestoernooi onttrek het om te fokus op die Olimpiese sewes-toernooi. Hy word beskou as een van die beste spelers ooit en sy teenwoordigheid by ‘n tuis-Spele is ‘n reuseveer in die hoed van die nasionale span en die organiseerders. Dupont maak Woensdag sy Olimpiese buiging in Groep C teen Amerika en Uruguay, met die laaste groepswedstryd teen Fidji en die kwarteindronde die volgende dag. Die halfeind en eindstryd word Saterdag gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-283-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-402-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die ombud vir Verbruikersgoedere vra verbruikers om vervaldatums vir voedsel na te gaan voordat hulle dit koop. Dit volg na talle klagtes in stedelike gebiede oor items wat verval het. Die uitvoerende hoof, Queen Munyai, sê landelike verbruikers, wat dikwels beperkte keuses het, is veral kwesbaar vir misleidende praktyke. Die sluit in die plaas van plakkers oor Beste Voor-datums of die verdoeseling van vervaldatums. Sy vra steun vir pogings deur die Nasionale Verbruikerskommissie om die verkoop van goedere wat verval het te keer en wil verbruikers bemagtig oor hulle regte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….