Nuus 11:00
BULLETIN 22 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van ‘n professionele en bekwame Staatsdiens
# Wêreldleiers reageer op president Joe Biden se besluit om aan die Amerikaanse verkiesingswedloop te onttrek
# En rugby: Die Blitsbokke is gereed vir hul openingswedstryd teen Ierland in Parys
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid het die heropbou van die Staatsdiens se vermoë en die skep van ‘n professionele staatsdiens as voorkeur uitgewys. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief ʼn bevoegde, etiese en ontwikkelings-gerigte staat is nodig om ʼn inklusiewe ekonomie te skep wat werk skep en armoede verminder. Ramaphosa sê staatskaping is ʼn bittere les oor die staatsektor se kwesbaarheid wanneer die belange van privaat ondernemings inmeng. Hy sê ʼn verenigde regering kan nie suksesvol wees sonder ʼn verenigde Staatsdiens nie.
# Die Landelike Gesondheidsvoorspraakgroep beklemtoon dat verbeterde landelike gesondheidsorg noodsaaklik is vir die bereiking van universele gesondheidsdekking. Russel Rensburg van die organisasie sê die Nasionale Gesondheidsversekering wil billike sorg vir alle Suid-Afrikaners gee. Hy staan ‘n veelfasset-benadering voor teen gesondheidsongelykhede, want die NGV sal die openbare gesondheidstelsel herorganiseer om beter te reageer op uitdagings:
# Die Departement van Gesondheid sê ʼn graad een-leerder van Hammanskraal in Pretoria, wat vermoedelik a-pokke gehad het, het negatief getoets vir dié virussiekte. Dit volg nadat die Gautengse Onderwysdepartement verlede week aangekondig het die leerder het simptome gehad en aanvanklik positief getoets vir die siekte. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, waarsku die publiek om nie self ʼn diagnose te maak of te isoleer sonder bevestigde laboratorium-uitslae nie:
# Wêreldleiers het gereageer op die Amerikaanse president, Joe Biden, se besluit om aan die presidensiële wedloop te onttrek. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het Biden bedank vir sy ondersteuning en leierskap in die oorlog teen Rusland. Israel se president, Isaac Herzog, het Biden bedank vir sy vriendskap en ondersteuning en beskryf hom as ʼn bondgenoot van die Joodse volk. Nieu-Seeland se eerste minister, Christopher Luxon, sê Biden het sy lewe aan openbare diens gewy en dit verdien respek.
# Olimpiese Spele: Die veteraan-Blitsbok Rosko Specman sê hulle is gereed vir ʼn taai stryd teen Ierland in Woensdag se aanvangswedstryd in Parys. Die ander spanne in Groep A is Nieu-Seeland en Japan. Specman, wat deel was van die span wat in 2016 ʼn brons medalje op die Spele in Rio gewen het, sê die byeenkoms is altyd ʼn hoogtepunt:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-400-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-402-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….