Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Joe Biden het gister aan die presidensiële wedloop onttrek. Hy ondersteun vise-president Kamala Harris om hom as die Demokrate se kandidaat te vervang teen die Republikein, Donald Trump. Biden het op X gesê hy sal sy termyn tot Januarie 2025 voltooi en onderneem om die nasie die week toe te spreek.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met Biden se besluit om uit te tree. Die koerant berig ontleders sê die Demokratiese Party is nou in ‘n krisis want hulle moet voor November ‘n vise-presidentskandidaat vind om saam met Kamala Harris aan die verkiesing deel te neem.
En tweedens skryf die koerant oor die hartlike ontvangs Saterdag toe die Springbokke en Portugal teen mekaar uitgedraf het in Bloemfontein.
# The Star en Pretoria News:
Se hele voorblad bestaan uit foto’s van mense wat vermis word. Die koerant skryf die land het ‘n reuseprobleem. In baie gevalle eis ontvoerders lospryse van familielede en in sommige gevalle word die ontvoerdes bedwelm en in die Johannesburgse dwelmonderwêreld verkoop. Sommige slagoffers word vir hul liggaamsdele vermoor.
# En Sowetan:
Berig oor wat die koerant na verwys as Gauteng se jongste kankerskandaal. Die organisasie Cancer Alliance dien môre ‘n hofaansoek in oor die sowat drie-duisend pasiënte wat nie behandeling ontvang nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Staan sy hele voorblad af aan Saterdag se Springbok-sege in Bloemfontein. Meer as 42-duisend toeskouers het gekyk hoe die Bokke met 64-21 oor Portugal seëvier.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Biden.
En tweedens word berig die polisie het ‘n deurbraak gemaak in hul ondersoek na die moord op Marlene Prinsloo van Gqeberha en die poging tot moord op haar vriend, Juan Landsberg.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Joe Biden wat die weg oopstel vir Amerika se eerste swart vroulike president, Kamala Harris.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die minister van Polisie, Senzo Mchunu gaan te midde van ‘n misdaadgolf in Gqeberha ‘n besoek bring aan die stad.
En skryf tweedens die man wat na bewering ‘n 14-jarige seun geskiet het toe hy pekanneute gepluk het, sal vandag in die hof verskyn.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal is onder druk as gevolg van struwelinge tussen die IVP en ANC.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die toerismebedryf in die KwaZulu-Natalse Middelland is onder druk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n hofbevel verplig die Deutsche Höhere Privatschule in Windhoek om ’n graad 10-leerder na ’n ander klas te skuif aangesien hy na bewering deur die onderwyser geboelie word.
Dan skryf die koerant B2Gold se Otjikoto-goudmyn se beplande afleggingsproses gaan voort, te midde van goeie produksie- en ontginningsresultate.
En laastens is daar nuus oor Prisca Anyolo wat in Lüderitz as die nuwe Mej. Namibië gekroon is.