Nuus 07:00
BULLETIN 22 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump vra Joe Biden om onmiddellik as president te bedank
# Minister Chikunga veroordeel voortdurende geslagsgeweld en vrouemoord
# En motorsport: Oscar Piastri raap sy eerste Grand Prix-oorwinning op
# Oudpresident Donald Trump sê president Joe Biden was nie bevoeg om weer as president te staan nie, en is beslis nie nou bevoeg as president nie en moet bedank. Biden het aangekondig hy is nie weer verkiesbaar nie en dat dit in die Demokratiese Party en die land se beste belang is. Dit volg na weke van kommer oor die 81-jarige Biden se verstandelike vermoë. Trump sê almal rondom Biden, insluitend sy dokter en die media, het geweet hy is nie in staat om president te wees nie.
# Die Parlement sê Busisiwe Mkhwebane is nie geregtig op die betaling van 10-miljoen-rand aan uittredende Openbare Beskermers nie omdat sy uit die pos verwyder is en nie die amp verlaat het nie. Sy het in Maart ‘n hofaansoek ingedien om die Openbare Beskermer se kantoor te dwing om haar te betaal en volgehou dit kom haar toe. Die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, sê egter dié betaling aan Mkhwebane, wat weens wangedrag en onbevoegdheid uit haar amp verwyder is, sal die grondslag en basiese grondwetlike waarde van aanspreeklikheid bedreig.
# Die minister in die Presidensie wat verantwoordelik is vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die volgehoue voorvalle van geslagsgeweld en vrouemoord is ʼn nasionale krisis. Die minister is veral bekommerd oor voorvalle waarby lewensmaats en familielede betrokke is. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê al het die regering geslagsgeweld een van sy belangrikste prioriteite gemaak, was die lot van vroue en meisies in Suid-Afrika oor die afgelope 30 jaar van demokrasie betreurenswaardig:
Not In My Name International vra intussen dringende optrede teen toenemende geslagsgeweld- en vrouemoord-gevalle. Die organisasie sê ondanks ‘n spitsberaad in 2019 en onlangse wetgewing, bly die vordering stadig. Daar is kommer oor politieke inmenging, die regverdige verspreiding van fondse en ekonomiese insluiting van vroue. Die groep pleit die regering moet voldoende steun gee, en die doeltreffende instelling van maatreëls teen geslagsgeweld verseker. Hy beklemtoon die stryd is die verantwoordelikheid van die gemeenskap en dat gesamentlike optrede nodig is om ‘n veiliger, billiker samelewing te skep.
# Die werkersvakbond, GIWUSA, is sterk gekant teen City Power se besluit om ‘n diensfooi van 200-rand in te stel op voorafbetaalde elektrisiteit. Die woordvoerder Koketso Phasha sê hulle veroordeel die stap as roekeloos en skadelik vir die werkersklas, wat reeds sukkel met die hoë lewenskoste. Hy sê die vakbond wil ‘n massavergadering in Johannesburg hou om terug te veg teen die besluit:
# Motorsport: McLaren-renjaer Oscar Piastri het ʼn dramatiese Hongaarse Grand Prix gewen om sy heel eerste Formule Een-sege te buit. Die Australiër het sy spanmaat, Lando Norris, aan die begin verbygesteek en die grootste deel van die wedren voorgeloop. Toe Norris egter in die tweede ronde eerste die kuipe besoek, het die Brit die voortou geneem. Hy het uiteindelik toegegee aan McLaren se kuipeboodskappe dat hy die plek aan Piastri moet afstaan. Lewis Hamilton van Mercedes was derde in sy 200ste F1-podiumplek. Piastri sê die span het die regte ding gedoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-828-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-406-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….