Nuus 06:00
BULLETIN 22 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Jo Biden onttrek aan die presidensiële wedloop
# AfriForum doen regstappe om John Hlophe uit die Regterlike Dienskommissie te verwyder
# En, Egoli bring hulde na die heengaan van die Suid-Afrikaanse akteur Esta TerBlanche
# Die Amerikaanse president Joe Biden het besluit om aan die presidentswedloop te onttrek en sê dit is in die beste belang van sy party en die land. In die afgelope weke het ‘n groeiende groep Demokrate en partyskenkers hom gevra om te onttrek, aangesien daar vrae is oor sy vermoë om Donald Trump te klop en ‘n tweede termyn te dien. Biden sê hy sal nou vir die res van sy termyn net daarop fokus om sy pligte as president na te kom. Hy het vise-president Kamala Harris ondersteun as genomineerde vir die Demokrate.
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse onderteken, wat die tweepot-stelsel instel vir aftreespaargeld. Die nuwe wet, wat op 1 September in werking tree, laat lede toe om onttrekkings uit die spaarkomponent te maak sonder om uit te tree. Die hervorming verdeel bydraes in spaar- en aftreekomponente, met onttrekkings wat teen die hoogste koers belas word, en verseker aftreefondse word behou tot aftrede.
# AfriForum het met regsoptrede begin om die Nasionale Vergadering se aanstelling van die voormalige regter-president John Hlophe op die Regterlike Dienskommissie, uit te daag. Hy is vroeër in ‘n staat van beskuldiging geplaas. Die burgerregte-organisasie voer aan Hlophe se aanstelling is onredelik en onwettig weens sy vorige wangedrag. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, sê hulle dien ‘n griefskrif in by die Konstitusionele Hof wat die eksklusiewe oordeel oor die saak het:
# ActionSA se senaat het ‘n tweedaagse sessie gehou oor beroepe van raadslede in Johannesburg en Ekurhuleni oor die party se koalisieverhoudings en sy rol in die stabilisering van bestuur. Die woordvoerder Samkelo Mgobozi sê die party is vasberade om nie ‘n vennoot te word van die ANC nie, maar beklemtoon die party se voorneme om doeltreffende dienslewering te verseker:
# Gholf: Die Amerikaner Xander Schauffele het ‘n tweede Major van die seisoen ingepalm, deur die Ope by Royal Troon in Skotland met twee houe te wen. Hy is die eerste speler wat die Ope en Amerikaanse PGA-kampioenskap in dieselfde jaar wen sedert Rory McIlroy in 2014. Engeland se Justin Rose en Billy Horschel van die VSA het twee houe agter hom geëindig in die tweede plek. Suid-Afrika se Thriston Lawrence was een voor met sewe om te speel, maar het drie houe gekort en vierde geëindig. Schauffele sê om sy tweede Major te wen is spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-996-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
# En op ‘n hartseer noot: Die Suid-Afrikaanse sepie Egoli: Plek van Goud het hulde gebring aan die aktrise Esta TerBlanche, wat verlede week dood in haar Los Angeles-huis gevind is. Die 51-jarige het die rol van Bienkie Naudé in Egoli vertolk en in die 1990’s na die VSA verhuis. Twee jaar later het TerBlanche die rol van Gillian Andrassy in die Amerikaanse sitkom All My Children losgeslaan. Sy het ook Mej. Tiener Suid-Afrika in 1991 gewen. Haar agent, Lisa Rodrigo, het haar as ‘n pragtige siel beskryf. Die voormalige uitvoerende vervaardiger van Egoli, Burgert Muller, sê TerBlanche was die toonbeeld van professionaliteit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….