Nuus 09:00
BULLETIN 20 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA vra dade, en nie net woorde nie, om Suid-Afrika reg te ruk
# Die Valke ondersoek ‘n sluipmoordpoging op ‘n SAID-advokaat
# En, rugby: Curriebekeroorwinnings vir die Pumas, die Bulle en die Leeus
# TLU SA versoek president Cyril Ramaphosa om te verseker sy regering doen meer en belowe minder sodat Suid-Afrika kan slaag. Dit sluit in infrastruktuur en ekonomiese groei. Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, benadruk die noodsaaklikheid om 30 jaar van wanbestuur reg te ruk deur middel van gesonde ekonomiese beginsels. Volgens hom lê die ware toets in hoe die markte die volgende vyf jaar reageer:
# Die hoofbedryfsbeampte van Nedbank Mfundo Nkuhlu beklemtoon die steunvlak vir kleinsake in Suid-Afrika as ‘n voortslepende uitdaging. Hy lig sleutelkwessies uit soos befondsing en ‘n betroubare kragvoorraad. Nkuhlu het gepraat op die bank se Top-bemagtigingskonferensie en die regering van nasionale eenheid gevra om voorheenbenadeelde mense met die ekonomie te integreer en te werk aan strukturele uitdagings waarmee kleinsakeondernemings regoor die land te doen het:
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal Nhlanhla Mkhwanazi het aangekondig die Valke hanteer nou die ondersoek na ‘n sluipmoordpoging op die Durbanse advokaat Coreth Naudé. Sy het oorleef na drie skote en ‘n suksesvolle operasie. Mkhwanazi bevestig noue samewerking met die Inkomstediens en voorkeur vir die ondersoek, en beklemtoon die behoefte aan die beskerming van diegene wat belastingontduikers vervolg. Naudé het die diens verteenwoordig in ‘n belastingondersoek teen die sakevrou Shauwn Mkhize.
# Suid-Afrika verwelkom die Internasionale Geregshof se raadgewende opinie oor Israel se praktyke in die besette Palestynse gebied, wat Oos-Jerusalem insluit. Die hof het herbevestig Israel se teenwoordigheid in die gebied is onwettig en keer Palestynse selfbeskikking. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Ronald Lamola beklemtoon die behoefte aan onmiddellike internasionale optrede om Israel se besetting en menseregteskendings te beëindig, en veroordeel dit as ‘n vorm van apartheid. Hy voeg by daar is nou ‘n bykomende regsverpligting op alle lande om medepligtigheid te beëindig in Israel se onwettige optrede en om internasionale wette te respekteer.
# En, rugby: Drie Curriebekerwedstryde is gister gespeel. Die Pumas het die baie foute deur die Haaie in Durban uitgebuit en met 31-21 gewen. Op Loftus in Pretoria het die Bulle ‘n reeks loesings beëindig met ‘n klipharde 25-13-oorwinning oor die Cheetahs. In die derde wedstryd op Ellis Park in Johannesburg moes die Leeus swoeg om Griekwas met 25-13 onder te kry. Môre meet die Griffons en Westelike Provinsie kragte in die naweek se laaste wedstryd in Welkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….