Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunk-direkteur van Water en Sanitasie word dood aangetref nadat hy gekaap is
# John Steenhuisen sê die nuwe regering is Suid-Afrika se kans om verdeeldheid te oorkom
# En, rugby: Daar is nie môre Curriebeker-wedstryde wanneer die Bokke vir Portugal pak nie
# Die adjunk-direkteur van die Departement van Water en Sanitasie, Sello Machitje, is dood aangetref nadat hy op 8 Julie as vermis aangemeld is. Hy is gekaap terwyl hy van Gauteng na die Oos-Kaap gereis het. Machitje se familie het vanoggend bevestiging van sy dood gekry. Die familie se woordvoerder, Sello Mphaga, sê hulle wag op meer besonderhede van wetstoepassing terwyl hulle rou oor sy dood. Die polisie ondersoek of ‘n 53-jarige verdagte, wat vir die besit van Machitje se voertuig aangekeer is, met sy dood verbind kan word.
# Die DA-leier, Johan Steenhuisen, sê die regering van nasionale eenheid is Suid-Afrika se kans om homself van populisme, verdeeldheid en ekonomiese agteruitgang te bevry. Hy het in die Parlement gesê dit bied ‘n geleentheid om ekonomiese en maatskaplike verdeeldheid te oorkom. Steenhuisen sê die regering van nasionale eenheid is ook ‘n geleentheid om ‘n welvarende Suid-Afrika te bou, en die DA is verbind tot dié doelstelling in die uitvoerende gesag én in die Parlement:
Cosatu sê intussen die regering van nasionale eenheid moet die hersiening van die brandstofprystruktuur bespoedig om te kyk waar belasting verminder kan word om verligting aan verbruikers, pendelaars en die ekonomie te gee. Woordvoerder Zanele Sabela sê die Internasionale Monetêre Fonds het dié week Suid-Afrika se bruto binnelandse produkgroei-beraming vir die jaar op 0,9-persent behou, ondanks die feit dat die land vir meer as drie maande sonder beurtkrag is:
# Die uitvoerende hoof van CrowdStrike, George Kurtz, sê die maatskappy werk aktief saam met kliënte wat geraak is deur ‘n fout in ‘n inhoudsopdatering van Windows-bedieners. Dit het gelei tot ‘n ontwrigtende, wêreldwye tegniese onderbreking wat lugrederye vlugte laat terughou, sommige uitsaaiers van die lug gehaal en alles van die bankwese tot gesondheidsorg geraak het. Kurtz benadruk dit is nie ‘n sekerheidsvoorval of ‘n kuberaanval nie. Die probleem is reggestel, met opdaterings beskikbaar op die ondersteuningsportaal. CrowdStrike raai organisasies aan om amptelike kommunikasie-kanale te gebruik.
# Rugby: Daar is nie enige Curriebekerwedstryde môre wanneer die Springbokke in Bloemfontein teen Portugal te staan kom nie. Die Leeus is vandag die gashere vir die Griekwas in Johannesburg, die Bulle en die Cheetahs sê mekaar die stryd aan in Pretoria en die Haaie verwelkom die Pumas in Durban. Sondag speel die Griffons in Welkom teen Westelike Provinsie. Die Cheetahs is boaan die punteleer met 10 punte na twee bonuspunt-oorwinnings gevolg deur die Leeus, die Bulle, Griekwas, die Pumas, die Haaie, die WP en die Griffons.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-209-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….