Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy het daarin geslaag om sy teiken vir die tweede Chirurgiese Marathon as deel van Mandeladag te oortref. Vanjaar se teiken was 700, gefokus op die bespoediging van operasies vir pasiënte wat tans op die waglys is vir spesialisbehandeling soos paediatrie, ortopedie, neurologie en borsoperasies. Die departement se woordvoerder, Motatale Modiba, sê 742 operasies is teen laat gistermiddag uitgevoer:
‘n Afvaardiging van Amerika wat die ReSURGEnce-konferensie in Durban bywoon, het ook gister aan Nelson Mandeladag deelgeneem. Hulle het onder leiding van eThekwini se onderburgemeester, Zandile Myeni, en die ReSURGEnce-sameroeper en uitgewer van New York Christian Times, Dennis Dillon, Nelson Mandela se voetspore by Ohlange High School in Inanda gevolg. Dit is waar hy in 1994 die eerste keer gestem het. Malcolm Ali Punter van die Health Care Cost Institute sê Mandela was spesiaal:
# Die Universiteit van Pretoria sê hoër onderwys in Suid-Afrika is nie goedkoop nie, en daarom is sy Giving Matters-veldtog uiters belangrik om studente wat uitgesluit voel, weer hoop te gee. Die instelling sê dit kos gemiddeld 20-duisend-rand per maand per student vir ‘n voorgraadse kursus by ‘n universiteit. Sedert die begin van die Giving Matters-veldtog in 2022 het organisasies en individue meer as 82-miljoen-rand geskenk. Die fonds verskaf beurse vir meer as 407 studente.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se radiostasie op die Soshanguve-kampus, TUT FM, vier sy 30ste verjaarsdag. Dit het van ʼn klein, akademiese poging ontwikkel tot ʼn bekende uitsaaiplatform. Die instelling sê die radiostasie het merkwaardige aanpasbaarheid en veerkragtigheid getoon ten spyte van uitdagings soos finansiële beperkings en veranderende media-neidings. TUT FM se stasiebestuurder, Kedibone Mahapa, sê die stasie se reis weerspieël die mag van veerkragtigheid en vernuwing.
# En ten slotte: Die Wêreld Ekonomiese Forum glo kunsmatige intelligensie kan minstens 97-miljoen werksgeleenthede teen volgende jaar skep. Ten spyte van kommer oor werksverplasing bly die WEF optimisties oor die potensiaal van K-I om omwentelings in bedrywe te veroorsaak en produktiwiteit te bevorder. Dit wys op die noodsaaklikheid van voortgesette leer en aanpasbaarheid in die ontwikkelende arbeidsmark. Namate K-I-tegnologieë vorder, sal geleenthede in datawetenskap, gesondheidsorg, finansies, onderwys en landbou meer word en ‘n nuwe geslag werkers bemagtig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….