Nuus 12:00
BULLETIN 19 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement gee die versekering die A-pokke-uitbreking is onder beheer
# Die Trump-organisasie gaan ‘n hotel en luukse wooneenhede in Doebai bou
# En die legendariese komediant Bob Newhart word geloof na sy dood op 94
# Die Departement van Gesondheid het bevestig die jongste uitbreking van A-pokke is onder beheer met 22 gevalle wat sedert die begin van die uitbreking aangemeld is. Dit sluit in 16 wat herstel het, drie sterftes en drie aktiewe gevalle. Woordvoerder Foster Mohale sê die publiek word aangeraai om mediese sorg te kry indien simptome ervaar word, samekomste te vermy en met gesondheidsbeamptes saam te werk vir kontak-opsporing om verdere oordrag te voorkom:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het president Cyril Ramaphosa se beroep verwelkom vir die omskepping van die land in ‘n bouperseel deur groter infrastruktuurbeleggings. Die president het in sy openingstoespraak van die Parlement hom verbind tot die verbetering van infrastruktuur, hoofsaaklik waterstelsels en menslike nedersettings. Macpherson sê hy gaan fokus op die uitbreiding van infrastruktuur vir die doeltreffende uitvoering en suksesvolle afhandeling van bouprojekte:
# Die Trump-organisasie het ‘n ooreenkoms aangekondig met ‘n Saudi-Arabiese ontwikkelaar vir die oprigting van ‘n toringgebou in Doebai. Trump Tower Dubai teiken die luuksemark. Die ontwikkeling sluit in ‘n Trump-hotel en wooneenhede met die Trump-handelsmerk. Die aankondiging is gedoen kort nadat bekend gemaak is dat die organisasie ‘n toringgebou in die Saoedi-Arabiese kusstad Jedda gaan bou. Dit sluit ook ‘n Trump-hotel en luukse villas in die hoofstad van die naburige Oman in, en wat volgens die maatskappy se webtuiste in 2028 voltooi sal wees.
# Fietsry: Die Belgiese jaer Victor Campenaerts het van twee ander voorlopers weggebreek om die 18de skof van die Tour de France in te palm. Dit is die 32-jarige lid van die Lotto-Dstny-span se eerste skofoorwinning in die tydren. Tadej Pogacar het sy algehele voorsprong van drie-minute-elf-sekondes behou. Die 25-jarige Sloweniër, wat oor drie dae die wenner van die moordende tydren kan wees, sê hy is steeds vol vertroue:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-848-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-418-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: Die legendariese Amerikaanse komediant Bob Newhart is in die ouderdom van 94 by sy huis in Los Angeles oorlede. Hy is alombekend vir sy televisieprogramme, The Bob Newhart Show en Newhart. Newhart is aan jonger kykers bekend vir sy gas-optredes in The Big Bang Theory en Young Sheldon. Die komediant Carol Burnett het hom beskryf as saggeaard en snaaks. Die komedie-rolprentregisseur Judd Apatow sê Newhart se briljante humor en saggeaardheid het almal met wie hy te doen gehad het, baie gelukkig gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….