Nuus 11:00
BULLETIN 19 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê dekades van leë beloftes is verby onder die regering van nasionale eenheid
# Fietsry: Tadej Pogacar behou sy voorsprong in die Tour de France
# En huldeblyke stroom in na die dood van die legendariese komediant Bob Newhart
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa se openingstoespraak in die Parlement was inklusief en het die insette van die vennote in die regering van nasionale eenheid in ag geneem. Die president het ‘n doelgerigte fokus op groei, werkskepping en ‘n kompromis-benadering tot Nasionale Gesondheidsversekering beloof. Die VF Plus se parlementêre leier, Corné Mulder, sê die eerste keer in jare kan Suid-Afrikaners daarop hoop dat Ramaphosa se beloftes nie net leë woorde is nie:
Build One South Africa sê intussen dit is ‘n kwessie van wag en sien of die regering van nasionale eenheid die idees en rigting kan uitvoer wat Ramaphosa uiteengesit het. BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê hy is teleurgesteld dat Ramaphosa nie ‘n hervormingsagenda vooropgestel het nie:
# Die DA in Tshwane gaan vandag op die ANC se beplande mosie van wantroue in die burgemeester, Cilliers Brink, reageer. Die ANC sê die mosie is weens die agteruitgang in die stand van die metro onder die DA-burgemeester. Die DA glo die mosie word gemotiveer deur ANC-leiers se privaat sakebelange. Hy voeg by dit is omdat Brink die strop al nouer begin trek het om diepgewortelde korrupsie-netwerke uit te roei wat dienslewering vir te lank al ondermyn het.
# Fietsry: Die Belgiese jaer Victor Campenaerts het van twee ander voorlopers weggebreek om die 18de skof van die Tour de France in te palm. Dit is die 32-jarige lid van die Lotto-Dstny-span se eerste skofoorwinning in die tydren. Tadej Pogacar het sy algehele voorsprong van drie-minute-elf-sekondes behou. Die 25-jarige Sloweniër, wat oor drie dae die wenner van die moordende tydren kan wees, sê hy is steeds vol vertroue:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-896-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-420-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-55-sent per vat.
# En, ten slotte: Die legendariese Amerikaanse komediant Bob Newhart is in die ouderdom van 94 by sy huis in Los Angeles oorlede. Hy is alombekend vir sy televisieprogramme, The Bob Newhart Show en Newhart. Newhart is aan jonger kykers bekend vir sy gas-optredes in The Big Bang Theory en Young Sheldon. Die komediant Carol Burnett het hom beskryf as saggeaard en snaaks. Die komedie-rolprentregisseur Judd Apatow sê Newhart se briljante humor en saggeaardheid het almal met wie hy te doen gehad het, baie gelukkig gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….