Nuus 08:00
BULLETIN 19 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen is bemoedig deur Ramaphosa se uitgangspunt oor Nasionale Gesondheidsversekering
# Julius Malema is vol vertroue die regering van nasionale eenheid sal in duie stort
# En, die VN sê die ontruimingsbevele in Gaza het baie voedselverspreidingspunte noodgedwonge laat sluit
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê hulle verwelkom president Cyril Ramaphosa se erkenning dat ekonomiese groei die vertrekpunt is om so baie maatskaplike probleme reg te stel. Hy het gereageer op die president se openingsrede tydens gisteraand se parlementsopening in Kaapstad. Steenhuisen sê hy is bemoedig deur Ramaphosa se verbintenis dat partye in die regering van nasionale eenheid hulle verskille oor Nasionale Gesondheidsversekering sal uitklaar:
# Die EFF-leier Julius Malema sê president Cyril Ramaphosa het niks belangrik gesê in sy toespraak by die parlementsopening nie. Hy sê die beloftes oor werkskepping is net retoriek wat geen voordele vir Suid-Afrikaners inhou nie. Malema sê die alliansie met die DA wys Ramaphosa se administrasie wil eerder mag behou as landburgers se behoeftes aanspreek:
# Die MK-party se leier in die Parlement en regter onder ampsklag, John Hlophe, beskryf president Cyril Ramaphosa toespraak by die parlementsopening as skokkend. Die president het gisteraand in Kaapstad die regering van nasionale eenheid se prioriteite vir die volgende vyf jaar uiteengesit. Hlophe sê dis duidelik Ramaphosa het nie self die toespraak voorberei nie en voer aan die DA het dit gedoen. Hy sê daar was baie leuens in die president se toespraak:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê nuwe ontruimingsbevele in Gaza het tot die grootste verplasings sedert Oktober gelei. Ontruimingsbevele wat die Israelse Weermag in Junie en vroeër vandeesmaand uitgereik het, het die getal mense wat in Gaza ontwortel is van 1,7-miljoen tot 1,9-miljoen opgestoot. Die voedselprogram het hierdie maand meer as 600-duisend mense in Gaza van kos voorsien. Die VN-agentskap sê die ontruimingsbevele het veroorsaak dat baie verspreidingspunte sluit en hy vra veilige en volgehoue toegang.
# Gholf: Daniel Brown van Brittanje het in die openingsronde van Die Ope by Royal Troon in Skotland ses onder 65 aangeteken en loop met een hou voor die 2019-kampioen, Shane Lowry, van Ierland. Dis die 29-jarige Brown se eerste Major-toernooi. Die Amerikaner Justin Thomas is twee houe agter Lowry. Die Suid-Afrikaners, Thriston Lawrence en Dean Burmester, is onder die 13 wat gelykop is in die 18de plek. Rory McIlroy van Noord-Ierland het gesukkel ná ‘n openingsronde van 78, terwyl die Amerikaner Tiger Woods gevaar loop om die derde agtereenvolgende die afsnypunt te mis ná ʼn agt oor baansyfer 79.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-992-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-427-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….