Nuus 07:00
BULLETIN 19 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is vol vertroue dat ‘n vergelyk oor Nasionale Gesondheidsversekering bereik sal word
# Die minister van Basiese Onderwys gaan die matriekslaagsyfer van 30-persent laat hersien
# En, Saoedi-Arabië het vanjaar reeds 106 mense tereggestel
# President Cyril Ramaphosa sê hy vertrou die regering van nasionale eenheid sal verskille oplos en misverstande uitklaar met die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering. Die president het die NGV vroeër vanjaar as wet bekragtig ten spyte van groot teenkanting van dokters, mediese fondse, opposisiepartye en selfs die Parlement se regspan. Ramaphosa het gisteraand in Kaapstad by die parlementsopening gesê die NGV sal op die versterking van gesondheidsinfrastruktuur fokus:
Voorts sê Ramaphosa om vinnige, inklusiewe groei te verseker moet die regering sukkelende munisipaliteite regruk. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het vroeër die week aangekondig hy gaan wanfunksionele munisipaliteite ontbind en nuwe verkiesings hou om amptenare aan te stel. Ramaphosa het gister gesê die regering sal seker maak die institusionele struktuur en befondsingsmodel vir plaaslike regering dien sy doel en dat munisipaliteite finansieel en operasioneel volhoubaar is:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube beplan om ‘n paneel van kundiges, vakbonde en skoolliggame aan te stel om die 30-persent matriekslaagsyfer te hersien. Sy het die behoefte aan hervorming benadruk en sê studente moet minstens drie vakke met 40-persent slaag. Gwarube het ook die belangrikheid van die verbetering van geletterdheid vir laer grade uitgewys en sê 81-persent van graad-vier-leerders kan nie met begrip lees nie. Sy mik daarna om algehele onderwysstandaarde te verhoog om beter uitkomste in matriek en daarna te verseker.
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy sal homself verdedig teen bewerings dat hy betrokke was by die plundering van die VBS Bank. Die gewese VBS-voorsitter, Tshifhiwa Matodzi wat tans in die tronk is, beweer in sy beëdigde verklaring die EFF het vyf-miljoen-rand asook ‘n maandelikse skenking een-miljoen-rand van die bank ontvang. Dis na bewering aan ʼn maatskappy van Brian Shivambu, broer van die party se adjunkpresident Floyd Shivambu, betaal vanwaar dit na die EFF gekanaliseer is. Malema sê die EFF het nooit VBS-geld ontvang nie:
# Saoedi-Arabië het twee mense tereggestel wat aan dwelmhandel skuldig bevind is wat die totale aantal teregstellings vanjaar op minstens 106 te staan bring. Die amptelike Saoedi-nuusagentskap berig een was ‘n Saoedi-burger wat vir handel in amfetamiene gehang is, en die ander een ‘n Pakistanse burger vir handel in heroïen. Die teregstellings is in Mekka gehou. AFP berig diegene wat ter dood veroordeel is, is 78 Saoedi-burgers, vyf Ethiopiërs, drie Siriese burgers, en een persoon elk van Sri Lanka, Nigerië, Jordanië, Indië, en Soedan. Twee van hulle was vroue.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal, is deur na die Sweedse Ope se kwarteindronde in Bastad. Die Spanjaard het Cameron Norrie van Brittanje met 6-4, 6-4 geklop terwyl hy voorberei vir die Olimpiese Spele in Parys. Nadal en die Argentyn, Mariano Navone, spook sake uil vir ʼn plek in die halfeindronde. Die kwalifiseerder Timofey Skatov van Kasakstan het derde gekeurde Tallon Griekspoor van Nederland met 1-6, 6-3, 6-4 verslaan om sy eerste ATP Toer-kwarteindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-873-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-427-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….