Nuus 06:00
BULLETIN 19 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onthul drie strategiese prioriteite van die regering van nasionale eenheid
# Die ANC verwerp Zuma se versoek vir ‘n openbare tugverhoor
# En rugby: Portugal glo hy kan die Bokke in môre se toets klop
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid het besluit om die volgende vyf jaar te wy aan aksies wat drie strategiese prioriteite bevorder. Dit is om inklusiewe groei en werkskepping te dryf, armoede te verminder, die hoë lewenskoste aan te pak en ‘n bekwame, etiese en ontwikkelende staat te bou. Hy het gisteraand die rede tydens die parlementsopening by die stadsaal in Kaapstad gelewer. Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid sal met groot dringendheid en vrymoedigheid en beslissend optree:
Ramaphosa sê ook die regering van nasionale eenheid sal aksies volg wat bydra tot volhoubare, vinnige ekonomiese groei, en elke struikelblok wat in die pad van groei staan, uit die weg ruim. Ramaphosa sê hulle sal voortgaan om programme te volg wat breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging, diensbillikheid en die ondersteuning van klein- en mediumgrootte-ondernemings aanmoedig:
# Die ANC het die versoek van oudpresident Jacob Zuma verwerp om sy tugverhoor oor wangedrag in die openbaar te hou. Hy sou Woensdag voor die ANC se Nasionale Tugkomitee verskyn, maar het nie opgedaag nie. Zuma word deur die ANC-lid Tony Yengeni verteenwoordig. Die MK-party sê Zuma wou hê die verhoor moet oop wees vir die publiek vir deursigtigheid en aanspreeklikheid. Die waarnemende woordvoerder van die ANC, Zuko Godlimpi sê hoewel die komitee ingestem het tot die uitstel van die verhoor, sal dit nie in die openbaar of fisies wees nie.
# Die Landdroshof in Fochville het borgtog van 20-duisend-rand toegestaan aan die bakkiebestuurder wat verlede week in Carletonville betrokke was by die dood van elf leerders en die bestuurder van ‘n minibus-taxi. Gert van Emmenis se bakkie het gebots met ‘n minibus-taxi wat ontplof het. ‘n Woordvoerder van die NVG, Lumka Mahanjana, sê die 55-jarige Van Emmenis moet sy paspoort inhandig en mag nie met getuies inmeng nie:
# Die Amerikaanse president Joe Biden het sy studentelening-toegewingsprogram verleng en die lenings van nog 35-duisend Amerikaners gekanselleer, terwyl hy hoop om herverkies te word. Die jongste stap wat neerkom op 22-miljard-rand se studenteskuld bring die getal mense wat voordeel trek uit die verskeie skuldverligtingsprogramme op 4,76-miljoen te staan. Die leners sluit onderwysers, verpleegkundiges, polisiebeamptes en noodwerkers in. Die aankondiging val saam met die laaste dag van die Republikeinse Nasionale Konvensie in Milwaukee waar Donald Trump die Republikeinse party se benoeming vir die verkiesing in November aanvaar het.
# Rugby: Portugal glo vas hulle is sterk genoeg om Suid-Afrika te klop in môre se toets in Bloemfontein – die eerste nog tussen die twee lande. Die Wolwe is bemoedig deur hulle onverwagse oorwinning oor Fidji tydens die Wêreldbeker verlede jaar in Frankryk. Portugal is tans 15de op die wêreldranglys en die wêreldkampioene eerste. Die kaptein van Portugal, Tomas Appleton, sê hulle speelstyl is deur die Springbokke beïnvloed en sy span wil die wêreld skok elke keer as hulle speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-614-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-434-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….