Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Padongelukkefonds sê sy bydrae tot Mandeladag is ‘n skenking aan die Odirile-sentrum in Hammanskraal, Pretoria. Die sentrum sien om na mense met verstandelike en fisiese gestremdhede. ʼn Woordvoerder van die fonds, Noluthando Mvabaza, sê hulle sal kos, matrasse, skoonmaakmiddels en sporttoerusting skenk. Sy sê dis deel van die fonds se talle programme wat ʼn bydrae lewer om mense met gestremdhede weer by die samelewing te laat inskakel:
# Die Unisa-regskliniek se kandidaat-prokureur, Thembisile Mahuwa, is benoem vir die internasionale Women in Law-toekenning vir jong presteerders of pioniers. Die toekenningseremonie word in September in Oostenryk gehou. Mahuwa het onlangs ook twee ander toekennings ontvang: Een vir Mail and Guardian se Top 200 Jong Suid-Afrikaners 2024 in die regsdienste-kategorie, en Sunday World se Unsung Heroes 2024, in die onderwyskategorie. Sy sê haar fokus is die bemagtiging van vroue en jongmense in landelike gebiede.
# ʼn Oudstudent van die Universiteit van Fort Hare, Sinovuyo Sotomela, is vereer as een van die beste distriksaanklaers wat by die Oos-Londense Landdroshof vir die Nasionale Vervolgingsgesag werk. Die 28-jarige het onlangs drie toekennings vir uitnemendheid ontvang op die NVG se streekstoekennings. Sotomela is aangewys as beste presteerder in ʼn distrikshof, die mees selfgedrewe presteerder, en die beste spanspeler. Sy sê sy hou van wat sy doen en is passievol om reg te laat geskied..
# Die samoerai-reeks Shogun, wat in Japan afspeel, het 25 benoemings gekry vir die 76ste Televisie Emmy’s, waaronder Beste Beperkte Reeks. Die sterre van die trefferdrama, Hiroyuki Sanada en Anna Sawai, is benoem as leier-akteur en -aktrise. The Bear het ‘n rekord opgestel vir ‘n komedieprogram met 23 benoemings. Daar is 18 benoemings vir Netflix se The Crown, en elf vir Baby Reindeer. Vanjaar se mees benoemde beperkte of versamelingsreeks is HBO se True Detective: Night Country, met 19.
# En ten slotte: Die organiseerders van die Britse sangeres Adele se komende konserte in München sê hulle wil ‘n Guinness-wêreldrekord vir die grootste buitenshuise skerm van alle tye opstel, met ‘n lengte van 220-meter. Sowat 74-duisend aanhangers sal na verwagting volgende maand elke aand vir tien vertonings opdaag by ‘n spesiaal-opgerigte opwipstadion. Adele sê die video-installasie sal die ondervinding vir geesdriftiges nog meer opwindend maak. Daar sal ook ‘n Adele-ondervinding wees met ‘n tipies-Engelse kroeg en stalletjies wat spesiaal ontwerpte drankies verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….