Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party is nou die amptelike opposisie in die Parlement
# Die Marshalltown Fire Justice Campaign veroordeel die terughou van slagoffers se oorskot
# En groot dele van Parys is in sekerheidsafsluiting voor die begin van die Spele
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die MK-party as amptelike opposisie in die Parlement bevestig – ‘n besluit wat die Reëlskomitee gisteraand geneem het. Die aankondiging is gedoen voor president Cyril Ramaphosa se toespraak met vanaand se Parlementsopening. Didiza sê MK het die EFF in die algemene verkiesing verbygesteek om Suid-Afrika se derde grootste party te word:
# Die Marshalltown Fire Justice Campaign veroordeel ten sterkste die voortgesette terughouding van die oorskot van slagoffers van die Usindiso-brand. Die koördineerder van die veldtog, Mametlwe Sebei, sê hierdie besluit ontneem families al vir bykans ‘n jaar die geleentheid om hulle behoorlik te begrawe. Sebei versoek die Forensiese Patologiedienste in Gauteng en die provinsiale Gesondheidsdepartement om die DNS-toetsing te bespoedig om die liggame uit te ken:
# Die rooi tapyt word vandag vir Donald Trump uitgerol vir sy langverwagte toespraak met sy aanvaarding van sy benoeming as die Republikeinse kandidaat vir die Amerikaanse verkiesing. Dit word oorheers deur die naweek se aanslag op sy lewe. Die 78-jarige voormalige president kan ‘n helde-ontvangs verwag op die laaste dag van die party se konvensie in Milwaukee. Terwyl sommige Republikeine die Demokrate die skuld gee vir die aanval op Trump weens anti-Trump-retoriek, het hy gesê hy het ‘n aggressiewer weergawe van sy toespraak opgeskeur ter wille van een wat die land hopelik sal verenig.
# Olimpiese Spele: Groot dele van Parys is in sekerheidsafsluiting in afwagting op volgende Vrydag se openingseremonie langs die Seine-rivier. Atlete het in die Franse hoofstad begin aankom en die stad verwag ook tot 10-miljoen toeskouers. Die sekerheidsmaatreëls sluit in dat mense wat die gryssone met die hoogste sekerheid op die oewers van die Seine wil binnegaan, soos inwoners en besoekers met hotelbesprekings, ‘n QR-kode-sekerheidspas benodig. Talle Metro-stasies is ook gesluit tot volgende Saterdag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-666-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die organiseerders van die Britse sangeres Adele se komende konserte in München sê hulle wil ‘n Guinness-wêreldrekord vir die grootste buitenshuise skerm van alle tye opstel, met ‘n lengte van 220-meter. Sowat 74-duisend aanhangers sal na verwagting volgende maand elke aand vir tien vertonings opdaag by ‘n spesiaal-opgerigte opwipstadion. Adele sê die video-installasie sal die ondervinding vir geesdriftiges nog meer opwindend maak. Daar sal ook ‘n Adele-ondervinding wees met ‘n tipies-Engelse kroeg en stalletjies wat spesiaal ontwerpte drankies verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….