Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Inwoners van Bloemfontein en besoekers aan die Vrystaatse hoofstad vir Saterdag se toets tussen die Springbokke en Portugal, kan vandag die Wêreldbeker sien. Vyf lede van die triomfantelike Bokspan besoek vanaf eenuur vanmiddag die Loch Logan-winkelsentrum. Hulle is die plaaslike helde Ox Nché en Cobus Reinach, asook Lukhanyo Am, Grant Williams en Trevor Nyakane. Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê dit is wonderlik om die trofee na Bloemfontein te neem voor die Bokke Portugal aandurf in ‘n uitverkoopte Vrystaat-stadion.
# Vervolgens, Olimpiese Spele: Die Springbok-sewesspan gee hulleself ‘n goeie kans om ‘n medalje in Parys in te palm. Die Blitsbokke het op die nippertjie gekwalifiseer nadat niemand gedink het dis moontlik nie. Hulle het gister na die Franse hoofstad vertrek. Oud-kaptein Siviwe Soyizwapi sê hulle het ongelooflik hard gewerk om in die medaljewedloop te bly. Die Blitsbokke speel in Groep A teen die All Blacks, Ierland en Japan in die toernooi, wat Woensdag in die Stade de France begin.
# Krieket-nuus: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê hy ondersteun Chris Woakes in sy rol om die boul-eenheid te lei. Die 35-jarige Woakes speel die 50ste keer vir Engeland in die tweede toets teen die Wes-Indies wat van vandag op Trent Bridge plaasvind. Dis die eerste tuis-toets sedert 2012 waarin James Anderson en Stuart Broad nie een speel nie, omdat albei uitgetree het. Stokes sê Woakes sal die aanval lei en die nuwe bal met Gus Atkinson deel:
# Sokker: Die kaptein van Real Madrid, Luka Modric, het ‘n nuwe eenjaar-ooreenkoms onderteken om hom die komende seisoen by die Santiago Bernabeu te hou. Die 38-jarige middelveldspeler van Kroasië het sy kontrak verleng tot 30 Junie volgende jaar. Modric het ses Kampioeneligatitels, vier La Liga-titels en twee Copa del Rey-titels met Real Madrid ingepalm. Hy het die afgelope twee seisoene net 37 keer opgedraf, maar bly ‘n sleutelspeler vir afrigter Carlo Ancelotti.
# En, ons sluit af met fietsry: Richard Carapaz van Ecuador het die 17de skof van die Tour de France gewen en ‘n Grand Tour-driekuns behaal nadat hy ook skofte gewen het in die Giro d’Italia en Vuelta a Espana. Die Education-EasyPost-fietsryer het 37 sekondes voor die Brit, Simon Yates, klaargemaak en die eerste man van sy land geword wat ʼn skof in die Tour de France wen. Die algehele voorloper, Tadej Pogacar van Slowenië, het 27ste klaargemaak. Hy het wel sy voorsprong bo die tweemalige verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard van Denemarke, met twee sekondes verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….