Nuus 09:00
BULLETIN 18 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie is daartoe verbind om die aanbevelings van die Zondo-kommissie in werking te stel
# Die UDM sê Ramaphosa moet stappe vir Suid-Afrika se onmiddellike toekoms uitstippel
# En, die VN-hoof doen ‘n beroep op almal om Madiba se nalatenskap te eer en ‘n beter wêreld te bou
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Nkadimeng, sê haar departement sal steeds pogings verskerp in die stryd teen korrupsie. Altesaam 628-miljoen-rand van die departement se begroting is toegeken aan die instelling van die aanbevelings van die Finansiële Aksietaakmag en die Staatskapingskommissie. Nkadimeng sê die stigting van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie met strafregtelike ondersoekmagte sal die integriteit en doeltreffendheid van die land se regstelsel verbeter
# Die UDM sê president Cyril Ramaphosa se toespraak vanaand kan nie net die gewone sake hanteer nie, want hy moet die volgende stappe uiteensit vir Suid-Afrika se onmiddellike toekoms. Die president sal sy Parlementsopeningtoespraak in die Kaapstadse stadsaal lewer. Die sekretaris-generaal van die UDM, Yongama Zigebe, sê terwyl burgers politieke emansipasie bereik het, bly hulle vasgevang in armoede, werkloosheid en misdaad:
# Die Stad Tshwane sê hy sal hou by sy belofte om werknemers ‘n salarisverhoging te gee. Loononderhandelings het Maandag by die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad begin tussen die metro en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsorganisasie, die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond en die Onafhanklike Munisipale en Verwante Vakbond. Die stadsbestuurder, Johann Mettler, sê voorsiening is gemaak om personeel vir die 2024/2025 boekjaar ‘n 5,1-persent salarisverhoging te gee:
# Sokker: Die kaptein van Real Madrid Luka Modric het ‘n nuwe eenjaar-ooreenkoms onderteken om hom die komende seisoen by die Santiago Bernabeu te hou. Die 38-jarige middelveldspeler het sy kontrak verleng tot 30 Junie volgende jaar. Modric het ses Kampioeneligatitels, La Liga vier keer en die Copa del Rey twee keer met Real Madrid ingepalm. Hy het in die afgelope twee seisoene net 37 keer opgedraf, maar bly ‘n sleutelspeler vir die afrigter Carlo Ancelotti.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-805-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-466-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-40-sent per vat.
# En, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, moedig almal aan om vandag 67 minute openbare diens te lewer om Nelson Mandela se nalatenskap te eer. Dit is vandag Internasionale Nelson Mandeladag met die tema: Dit is steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bekamp. Guterres sê Mandela het aan die wêreld gewys watter buitengewone verskil een mens kan maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….