Nuus 07:00
BULLETIN 18 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA versoek Ramaphosa om ekonomiese groeiplanne tydens die parlementsopening bekend te maak
# ‘n Hoëprofiel-demokraat doen ‘n beroep op Biden om te onttrek aan die presidensiële wedloop
# En Knorr onttrek bruinuie-souspoeier uit die mark
# ActionSA vra president Cyril Ramaphosa om sy toespraak by die Parlementsopening te gebruik om daadwerklike stappe aan te kondig vir die groot koalisie om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Die woordvoerder Samkelo Mgobozi beklemtoon die dringendheid van politieke aanspreeklikheid, beleidsekerheid en die lok van beleggings. Hy vra hervorming van die arbeidswette en beleggingstruikelblokke, en mededinging in sleutelbedrywe om binne vyf jaar 4,8-miljoen werksgeleenthede te skep:
Rise Mzansi sê intussen Ramaphosa se toespraak moet fokus op praktiese uitvoering eerder as verhewe beloftes. Hulle moedig Ramaphosa aan om voorkeur te gee aan die bestryding van misdaad, die verwydering van onwettige vuurwapens, ‘n professionele polisiediens, ‘n digitale hofstelsel en werkskepping. Die leier van die party Songezo Zibi vra die hele regering moet toegespits wees op die stryd teen korrupsie en die herlewing van die ekonomie met volhoubare groeistrategieë:
# ‘n Raadsvergadering in Ekurhuleni het gisteraand in chaos ontaard na ʼn dooiepunt tussen die ANC en EFF. Politieke partye was veronderstel om te debatteer en ʼn mosie van wantroue in burgemeester Sivuyile Ngodwana te aanvaar. Nkululeko Dunga van die EFF sê hulle is teleurgesteld oor veral ANC-raadslede se houding:
# Die Kaliforniese kongreslid, Adam Schiff, het die belangrikste Demokraat tot dusver geword wat president Joe Biden in die openbaar vra om aan die presidensiële wedloop te onttrek. Hy sê Biden alleen kan daaroor besluit, maar hy glo dis tyd om iemand anders ʼn kans te gee en sy nalatenskap as leier te verseker. Schiff sê ʼn tweede presidentskap onder Donald Trump sal Amerika se demokrasie ondermyn. Hy voeg by hy twyfel sterk of Biden Trump in November kan wen.
# Fietsry: Richard Carapaz van Ecuador het die 17de skof by die Tour de France gewen en ʼn Grand Tour-driekuns behaal nadat hy ook by die Giro d’Italia en Vuelta a Espana skofte gewen het. Die Education-EasyPost-fietsryer het 37 sekondes voor die Brit, Simon Yates, klaargemaak en die eerste man van sy land geword wat ʼn Tour de France-skof wen. Die algehele voorloper, Tadej Pogacar van Slowenië, het 27ste klaargemaak. Hy het wel sy voorsprong bo die tweemalige verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard van Denemarke, met twee sekondes verbeter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-665-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-460-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Knorr het sy bruinuiesouspakkies herroep nadat bevind is ‘n klein besending is gevul met sy professionele bruinsousbasis. Die eienaar Unilever sê die verpakking wys nou nie sekere bestanddele wat bevat word in die sousbasis nie. Die produk, wat aangedui word met die beste-voor datum van 11 en 12 Desember 2025, kan teruggebring word vir ‘n terugbetaling. News24 berig Knorr moes ook sy Cup-a-Soup lite bief-en-groente in 2022 herroep toe dit verkeerdelik verpak is met die gewone bief-en-groente-sopmengsel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….