Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika is oortuig van sterk bilaterale betrekkinge
# Die SABC gaan die term “regering van nasionale eenheid” in die hof verdedig
# En gholf: Twee oudkampioene is van môre af onder die Suid-Afrikaners in die Britse Ope
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety, is doodseker oor die hegtheid van die betrekkinge tussen die twee lande ondanks spanning oor Suid-Afrika se bande met Rusland en China. ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging gaan Amerika besoek om met wetgewers te praat oor ‘n hersiening van die verhouding aangesien dit Suid-Afrika se status ten opsigte van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, AGOA, mag raak. Brigety het aan News24 gesê hy is optimisties om bilaterale bande weer te laat opvlam:
# Die SABC gaan sy gebruik van die term ‘regering van nasionale eenheid’ verdedig teen regsoptrede van die MK-party. Die leier van die party, Jacob Zuma, voer aan die term mislei die publiek en is ongrondwetlik. Die SABC se groepshoofbestuurder, Moshoeshoe Monare, het die openbare uitsaaier se standpunt bevestig na aanleiding van ‘n eisbrief van MK. Hy noem die bewerings ongeregverdig en die klagte sonder meriete. Die verhoor is vir Augustus in die Hooggeregshof geskeduleer.
# Israel het vandag lugaanvalle teen Gaza voortgesit nadat eerste minister Benjamin Netanyahu onderneem het om die druk op Hamas te vergroot namate die hoop kwyn vir ‘n skietstilstand, soos deur Amerika voorgestel. Die politieke leier van Hamas, Ismail Haniyeh, beskuldig Israel dat hy doelbewus die onderhandelings vir ‘n wapenstilstand en die ooreenkoms oor gyselaars ondermyn, want hy wil nie die oorlog beëindig nie. Die Israelse Weermag sê daar was 25 aanvalle binne 24 uur. Sy soldate is ook besig met beplande operasies rondom Rafah, in Suid-Gaza, wat op intelligensie gegrond is.
# Gholf: Twee voormalige kampioene, Ernie Els en Louis Oosthuizen, is onder die Suid-Afrikaners wat môre afslaan in die eerste ronde van die Britse Ope op Royal Troon in Skotland. Hulle sluit aan by hulle landgenote soos Christiaan Bezuidenhout, Darren Fichardt en Dean Burmester in die wêreld se oudste toernooi. Die verdedigende kampioen, Brian Harman, slaan af saam met sy mede-Amerikaner Sahith Theegala en Viktor Hovland van Noorweë. Die driemalige kampioen Tiger Woods van Amerika is in dieselfde groep as sy landgenote Xander Schauffele en Patrick Cantlay.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-808-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-467-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement begin môre met sy tweede chirugie-marathon op Nelson Mandeladag, wat chirurgie in sleutel-spesialisgebiede moet bespoedig. Die LUR, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal toesig hou by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, waar meer as 120 operasies beplan word. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die projek is in ooreenstemming met die tema vir Mandeladag om armoede en ongelykheid te bekamp deur gesamentlike optrede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….