Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SABC gaan die gebruik van die term “regering van nasionale eenheid” in die hof verdedig
# TLU SA sê boere wil grondliggende verandering sien, nie versuikerde weergawes van ANC-ideologie nie
# En, rugby: Drie Bok-staatmakers is lank buite aksie weens beserings
# Die SABC gaan sy gebruik van die term ‘regering van nasionale eenheid’ verdedig teen regsoptrede van die MK-party. Die leier van die party, Jacob Zuma, voer aan die term mislei die publiek en is ongrondwetlik. Die SABC se groepshoofbestuurder, Moshoeshoe Monare, het die openbare uitsaaier se standpunt bevestig na aanleiding van ‘n eisbrief van MK. Hy noem die bewerings ongeregverdig en die klagte sonder meriete. Die verhoor is vir Augustus in die Hooggeregshof geskeduleer.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê boere verwag die minister van Landbou, John Steenhuisen, moet die rigting verander waarmee die ANC se verwoestende ideologiese standpunt landbou ontpoor het. Hoofbestuurder Bennie van Zyl sê Suid-Afrika se kiesers het dit in die verkiesing duidelik gestel die ANC se rigting is onaanvaarbaar. Van Zyl sê daar is groot kommer as die regering van nasionale eenheid die vernietigende pad van die ANC se beleidsrigting sou voortsit:
# ActionSA verwerp aantygings van vreemdelinghaat na sy beroep vir ingryping in Suid-Afrika se onwettige immigrante-krisis. Die party het tydens die begrotingsdebat van Binnelandse Sake beklemtoon dekades van regeringswanbestuur het die grense broos gelaat. ActionSA se parlementêre koukushoofsweep, Lerato Ngobeni, voer aan die instroming van onwettige immigrante, dwelmsindikate en georganiseerde misdaad tref die armste Suid-Afrikaners:
# Kundiges op verskeie mediese gebiede, aan wie die Padongelukkefonds tot sewe jaar lank geld skuld, doen ‘n beroep op die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om dringend in te gryp. Hulle beskuldig die fonds van nalatigheid, en verwys na onbetaalde eise van meer as 150-miljoen-rand. Ondanks hulle belangrike rol in hofbeoordelings, ontken die fonds aanspreeklikheid, en beweer voormalige prokureurs het verkeerd opgetree. Die dokters beweer hulle is finansieel geruïneer en vra die minister om dringend op te tree oor die fonds se mislukkings.
# Rugby: Die Springbokbestuur het bevestig drie staatmakers sal lank buite aksie wees weens beserings. Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Franco Mostert is almal ernstig beseer in die tweede toets teen Ierland. Mostert sal omtrent ses maande nie kan speel nie weens ‘n gebreekte been, terwyl Marx en Du Toit tot ses weke lank moet herstel en waarskynlik die begin van die Rugby-kampioenskap sal misloop. Die Bokke speel twee keer in Australië teen die Wallabies, twee keer in Suid-Afrika teen die All Blacks, en weg en tuis teen Argentinië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-179-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-473-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….