Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu het hoë verwagtinge van Ramaphosa se openingstoespraak in die Parlement
# Mediese kundiges moedig minister van Vervoer aan om betalingskrisis by Padongelukkefonds op te los
# En, sokker: Mbappé is amptelik bevestig as Real Madrid-speler
# Cosatu sê hy het hoë verwagtinge van president Cyril Ramaphosa se toespraak môreaand met die opening van die Parlement. Die vakbondfederasie sê dit bied hom die geleentheid om sleutelgebiede en beleid van die sewende administrasie uiteen te sit, wat bestaan uit verskeie politieke partye in die regering van nasionale eenheid. Woordvoerder Matthew Parks sê die sleutelgebiede waarop die regering moet fokus, sluit in ekonomiese groei en groter hulp aan Eskom om beurtkrag te beëindig:
# Kundiges op verskeie mediese gebiede, aan wie die Padongelukkefonds tot sewe jaar lank geld skuld, doen ‘n beroep op die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om dringend in te gryp. Hulle beskuldig die fonds van nalatigheid, en verwys na onbetaalde eise van meer as 150-miljoen-rand. Ondanks hulle belangrike rol in hofbeoordelings, ontken die fonds aanspreeklikheid, en beweer voormalige prokureurs het verkeerd opgetree. Die dokters beweer hulle is finansieel geruïneer en vra die minister om dringend op te tree oor die fonds se mislukkings.
# Die Werkloosheidsversekeringsfonds sê hy gaan meer as 7,7-miljard-rand aan verskeie staatsagentskappe betaal as deel van die fonds se vennootskap met staatsinstellings om 234-duisend werksgeleenthede te skep. Die WVF se woordvoerder, Trevor Hattingh, sê hulle wil deur die Arbeid-aktiveringsprogram saam met privaat sakeondernemings werk en ook bestaande regeringsprogramme en ingrypings gebruik om werkloosheid te verminder:
# ActionSA sê hy gaan die Omsigtigheidsowerheid vra om Wesbank te ondersoek nadat ‘n gewese werknemer vroeër vanjaar beweer het die bank gebruik ‘n spesifieke stelsel om swart kliënte meer te laat betaal. Wesbank het die bewerings ten sterkste ontken. Lerato Ngobeni van ActionSA sê Wesbank moet aanspreeklik gehou word indien hy skuldig bevind word:
# Sokker: Die Franse superster Kylian Mbappé het tydens sy amptelike aankondiging as ‘n speler van Real Madrid aan 80-duisend aanhangers in die volgepakte Santiago Bernabau-stadion gesê sy droom is bewaarheid. Die doelskieter het ‘n vyfjaarkontrak onderteken. Die klub hoop om sy salaris van sowat 295-miljoen-rand per seisoen en ‘n ondertekeningsbonus van meer as 1,9-miljard-rand te verhaal met borgskaps-ooreenkomste en die verkoop van handelsware. Mbappé hoop hy sal nou uiteindelik twee van sy lewenslange mikpunte bereik deur die Kampioeneliga en die Ballon d’Or in te palm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-345-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-472-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….