Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Portugal in Bloemfontein sal om meer as een rede geskiedkundig wees. Dit is die eerste toets ooit tussen die wêreldkampioen en Portugal, en Hollie Davidson van Skotland word die eerste vrou as skeidsregter in ‘n Bok-kragmeting. Salmaan Moerat maak sy buiging as Suid-Afrikaanse kaptein in ‘n groep met sewe spelers wat in hulle eerste toets speel. Bokafrigter Rassie Erasmus verwag die speltempo sal hoog wees in die Vrystaatstadion, waar die wedstryd om vyfuur afskop:
Die eerstekeuse Springbokke rus van vandag af vir tien dae tussen die gelykopreeks teen Ierland en die begin van hulle voorbereidings vir die Rugby-kampioenskap. Bestuur hou intussen asem op oor die fiksheid van die staatmakers Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Franco Mostert, wat almal op die krukkelys is. Die Bokke se eerste kragmeting in die Kampioenskap is op die tiende van volgende maand teen die Wallabies in Brisbane.
# Vervolgens, gholf: Twee voormalige kampioene, Ernie Els en Louis Oosthuizen, is onder die Suid-Afrikaners wat môre afslaan in die eerste ronde van die Ope op Royal Troon in Skotland. Hulle sluit aan by hulle landgenote soos Christiaan Bezuidenhout, Darren Fichardt en Dean Burmester in die wêreld se oudste toernooi. Die verdedigende kampioen, Brian Harman, slaan af saam met sy mede-Amerikaner Sahith Theegala en Viktor Hovland van Noorweë. Die driemalige kampioen, Tiger Woods van Amerika, is in dieselfde groep as sy landgenote Xander Schauffele en Patrick Cantlay.
# Krieket: Engeland het een verandering aangebring aan sy groep vir die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande wat môre op Trent Bridge begin, en die snelbouler Mark Wood opgeroep. Hy vervang James Anderson, wat sy skitterende loopbaan beëindig het ná die sege in die eerste toets op Lord’s. Engeland het binne net meer as twee dae met ‘n beurt en 114 lopies gewen. Wood, wat 108 paaltjies in 34 toetse platgetrek het, het op hulle toer na Indië vroeër vanjaar laas vir Engeland gespeel.
# En, ons slut af met nuus oor die Olimpiese Spele: Die burgemeester van Parys, Anne Hidalgo, gaan vandag uiteindelik in die Seine swem om te wys die rivier is skoon genoeg vir buitenshuise swemitems. Ondanks die belegging van miljarde rand om rioolstorting in die rivier te voorkom, is daar spanning oor die Seine nadat dit herhaaldelik nie watergehaltetoetse kon slaag voordat die Spele volgende week begin nie. Net van die begin van die maand af, met swaar reën wat uiteindelik plek gemaak het vir droeër weer, het monsters gewys die rivier is gereed vir oopwaterswem en driekamp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….