Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WVF gaan meer as sewe-miljard-rand bestee om 234-duisend werksgeleenthede te skep
# Die korrupsie-beskuldigde Edwin Sodi se Blackhead Consulting is steeds nie op Tshwane se swartlys nie
# En, rugby: Geskiedenis word Saterdag gemaak in die toets tussen Suid-Afrika en Portugal
# Die Werkloosheidsversekeringsfonds sê hy gaan meer as 7,7-miljard-rand aan verskeie staatsagentskappe betaal as deel van die fonds se vennootskap met staatsinstellings om 234-duisend werksgeleenthede te skep. Die WVF se woordvoerder, Trevor Hattingh, sê hulle wil deur die Arbeids-aktiveringsprogram saam met privaat sakeondernemings werk en ook bestaande regeringsprogramme en ingrypings gebruik om werkloosheid te verminder:
# Die Nasionale Tesourie sê die Stad Tshwane het steeds nie al die nodige dokumente ingedien om Edwin Sodi en sy maatskappy, Blackhead Consulting, op die swartlys te plaas nie. Die maatskappy was in 2019 deel van ‘n gesamentlike projek om die Rooiwal-watersuiweringsaanleg op te knap. Die werk is in Junie 2022 gestaak, maar slegs 60-persent is afgehandel terwyl die volle bedrag betaal is. ʼn Forensiese ondersoek het bevind die tender is onregmatig toegeken. Die Tesourie sê hy kan nie op sy eie name op die lys van verbode verskaffers plaas nie.
# Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur verklaar oorlog teen puttoilette in skole. Minister Dean Macpherson is bekommerd oor die voortgesette gevare van hierdie toilette vir kinders se lewens. Hy het tydens sy begrotingsrede gesê hy het met die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, oor hierdie kwessie gepraat. Macpherson sê daar is reeds gesprekke met die Nasionale Tesourie en LUR’e om planne te beraam:
# Rugby: Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Portugal in Bloemfontein sal om meer as een rede geskiedkundig wees. Dit is die eerste toets ooit tussen die wêreldkampioen en Portugal, en Hollie Davidson van Skotland word die eerste vrou as skeidsregter in ‘n Bok-kragmeting. Salmaan Moerat maak sy buiging as Suid-Afrikaanse kaptein in ‘n groep met sewe spelers wat in hulle eerste toets speel. Bokafrigter Rassie Erasmus verwag die speltempo sal hoog wees in die Vrystaatstadion, waar die wedstryd om vyfuur afskop:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-84-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-478-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Madonna se biografiese fliek is weer op dreef nadat dit in Januarie op die lange baan geskuif is sodat sy op haar wêreldwye Celebration Tour kan fokus. Die nuwe titel is Who’s That Girl, wat verwys na haar 1987-rolprent en liedjie met dieselfde naam. Die aktrise van Inventing Anna, Julia Garner, is volgens berigte steeds die gunsteling om die rol van die pop-ster te vertolk. Florence Pugh, Odessa Young en Alexa Demie het ook oudisies afgelê. Madonna en die skrywer van Secretary, Erin Cressida Wilson, het die draaiboek herskryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….