Nuus 11:00
BULLETIN 17 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit wil hê Dondo Mogajane moet onthef word van sy pligte as voorsitter van die Pensioenfonds vir Staatsamptenare
# Die Israeliese Weermag beweer hy het die helfte van Hamas se leierskap uitgeskakel
# En, rugby: Daar word geskiedenis gemaak in Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Portugal
# Solidariteit vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om Dondo Mogajane te onthef van sy pligte as voorsitter van die Pensioenfonds vir Staatsamptenare. Die veroordeelde voormalige raadsvoorsitter van die VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi, beweer in sy beëdigde verklaring hy het die gewese direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie een-miljoen-rand betaal, maar Dondo ontken dit. Renate Pieterse van Solidariteit sê die geld is na bewering aan Dondo betaal sodat hy sy invloed kan gebruik om munisipaliteite te oortuig om steeds by VBS te belê:
# Die voormalige Hooggeregshof-regter, Nkola Motata, het die Konstitusionele Hof genader oor sy verwydering as ‘n regter. Die Regterlike Dienskommissie het hom aan growwe wangedrag skuldig bevind ná ‘n dronkbestuurvoorval in 2009. Die Nasionale Vergadering het die 77-jarige Motata in Februarie in ‘n staat van beskuldiging geplaas en president Cyril Ramaphosa het hom in Maart amptelik verwyder. Motata wil die Nasionale Vergadering en Ramaphosa se besluit ongeldig laat verklaar en tersyde stel. Hy voer aan die Nasionale Vergadering het nie oor oor die jurisdiksie beskik om hom te verwyder nie.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, versoek Ramaphosa intussen om môre tydens die Parlementsopening te wys die regering van nasionale eenheid is daartoe verbind om Suid-Afrika se uitdagings te bowe te kom. Winde benadruk die belangrikheid van die oplewing van ekonomiese groei om werk te skep en armoede te verminder. Hy vra billike begrotingstoewysings vir noodsaaklike dienste, verbeterde energie- en waterveerkragtigheid, verhoogde befondsing vir infrastruktuur, verbeterde rampbestuur en veerkragtigheid met die klimaatskrisis:
# Die Israelse Weermag sê hy het sowat die helfte van Hamas se leiers in Gaza en 14-duisend soldate uitgeskakel sedert die oorlog verlede jaar uitgebreek het. Minstens 60 mense is intussen dié week oral in die Gaza-strook in Israelse lugaanvalle dood, insluitend 16 mense by ‘n skool van die Verenigde Nasies wat as ‘n vlugtelingkamp gebruik word. Die Weermag sê hy het gister sowat 40 teikens in Gaza getref, insluitend skerpskutter- en waarnemingsposte, militêre strukture en geboue wat met plofstof gelaai is.
# Rugby: Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Portugal in Bloemfontein sal om meer as een rede geskiedkundig wees. Die is die eerste toets ooit tussen die wêreldkampioen en Portugal, en Hollie Davidson van Skotland word die eerste vrou in beheer van ‘n Bok-kragmeting. Salmaan Moerat maak sy buiging as Suid-Afrikaanse kaptein in ‘n groep met sewe spelers wat in hulle eerste toets speel. Bokafrigter Rassie Erasmus verwag die speltempo sal hoog wees in die Vrystaatstadion, waar die wedstryd om vyfuur afskop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-544-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….