Nuus 08:00
BULLETIN 17 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monitêre Fonds hou Suid-Afrika se groeivooruitsig onveranderd
# Uitspraak voorbehou in Eskom se appèl teen bekendmaking van steenkool- en dieselkontrakte
# En, fietsry: Jasper Philipsen wen 16de skof van Tour de France
# Die Internasionale Monetêre Fonds het sy groeivooruitsig vir Suid-Afrika vanjaar onveranderd op 0,9-persent gelaat terwyl die wêreldwye groeivooruitsig ook onveranderd bly op 3,2-persent. Die IMF sê die vooruitsig bly gebalanseerd, maar sommige risiko’s in die nabye toekoms staan uit. Dit sluit in prysdruk weens hernude handels- of geopolitiese spanning. Die fonds waarsku teen politieke onbestendigheid in ekonomiese beleid as gevolg van talle verkiesings wat vanjaar plaasvind en sê dit kan ‘n negatiewe uitwerking op die res van die wêreld hê.
# Die Gautengse Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in Eskom se aansoek vir verlof tot appèl teen ʼn hofbeslissing dat hy inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum moet oorhandig. Die burgerregte-organisasie vermoed hierdie kontrakte kan moontlike onreëlmatighede en korrupsie by die kragverskaffer ontbloot. Charné Mostert van AfriForum sê Eskom is volgens wet verplig om deursigtig en verantwoordelik te wees:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing Dion George onderneem om wyd te konsulteer oor Suid-Afrika se volgende ontkolingsbelofte aan die VN in 2025. In sy begrotingstoespraak het George die land se toewyding beklemtoon aan globale klimaatsooreenkomste. Hy lig planne uit om hernubare energiebeleggings op te skerp, veral in Mpumalanga. Hy beloof ook die tydige voltooiing van omgewingsimpakstudies, gemik op die versnelling van die land se energie-oorgang en om volhoubare werksgeleenthede te skep.
# Die EFF in die Wes-Kaap veroordeel die vertragings in die saak teen vier verdagtes oor die verdwyning van die sesjarige Joslin Smith. Die saak is Maandag in die Vredenburg-landdroshof tot September uitgestel nadat die staat meer tyd gevra het vir verdere ondersoeke, forensiese verslae en data-ontleding van die beskuldigdes se selfone. Joslin se ma, Racquel Chantel Smith, is een van die beskuldigdes. Die graad een-leerder het in Februarie uit haar huis in Saldanhabaai verdwyn. Die EFF sê die vertragings in hierdie saak toon swakhede in die regstelsel.
# Fietsry: Die Belg, Jasper Philipsen, het die 16de skof van die Tour de France, van Gruissan na Nimes, gewen en sy derde skofoorwinning in vanjaar se resies opgeraap. Die Duitser Phil Bauhaus was tweede en Alexander Kristoff van Noorweë derde. Tadej Pogacar van Slowenië dra steeds die geel trui met ʼn voorsprong van drie minute en nege sekondes voor die tweemalige verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard van Denemarke. Philipsen sê op hierdie stadium van die kompetisie is enigiets moontlik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-624-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-472-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….