Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig belastingbetalers het in die belastingseisoen tot einde Februarie ’n gesamentlike 10-miljard-rand aan terugbetalings van die SA Inkomstediens ontvang. Die diens sê hy maak toenemend gebruik van derdeparty-data wat onnodige terugbetalings uitskakel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die vermeende moordenaars van die hoogspring-wêreldkampioen, Jacques Freitag is by ’n gastehuis in Sabie, Mpumalanga, in hegtenis geneem. Die Gautengse polisiewoordvoerder Brenda Muridili het bevestig dat ’n man en ’n vrou eersdaags in die Landdroshof in Pretoria sal verskyn.
En tweedens skryf die koerant André-Hugo Venter kan hom die komende naweek saam met sy pa, die oud-Bok André Venter, by die pa-en-seun-pare aansluit wat albei vir die Springbokke gespeel het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf AfriForum het die EFF in sy visier oor die plundering van VBS-bank.
En berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het Die Stem in die nasionale volkslied verdedig.
# Sowetan:
Berig oor die misdaadvoorkomingsplan van die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Hy wil 71-miljard-rand bestee aan speurdienste, moordsake met vier-duisend verlaag en verkragting met ses-duisend-200.
# En The Citizen:
Skryf die regering van nasionale eenheid het ‘n positiewe ingesteldheid uit talle oorde ontlok en die land het vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n blink toekoms.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die verdagtes wat gearresteer is in die Freitag-moordsaak.
En tweedens skryf die koerant ook oor André Hugo Venter se Bok-buiging.
En laastens word berig oor die Bloemfonteinse elektrisiteitsvoorsiener, Centlec wat weens wanbestuur in duie gestort het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor Jacques Freitag.
En tweedens het die koerant nuus oor die Karoo Lusern Slaghuis buite Oudtshoorn wat as die beste slaghuis in die land aangewys is.
# En Cape Times:
Berig ook oor McKenzie se steun vir Die Stem in die volkslied.
En skryf sekere van die ANC se alliansievennote is van mening die party het sy doelwitte uitverkoop.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk se dae is moontlik getel met ‘n veelparty-ondersoekkomitee wat kyk na sy verwydering as raadslid of skorsing uit die raad.
En tweedens skryf die koerant ‘n tenger en verswakte vrou van Bedford is na bewering deur haar kêrel doodgeslaan.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma sê alles verloop vlot met die regering van provinsiale eenheid.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig geslotekringtelevisie wys glo hoe twee moordbeskuldigdes na bewering die liggaam van die negejarige Akundaishe Natalie Chipomho in ’n groen asdrom na ’n nabygeleë munisipale vullisdrom sleep.
Dan skryf die koerant ’n boer in die Okahandja-distrik het vir die derde keer onder renosterstropers deurgeloop nadat hy die karkas van ’n witrenosterbul op sy plaas ontdek het.
En laastens word berig die Namibiese Verkiesingskommissie sê hy kort nog sowat 60-miljoen-rand om te verseker kiesersregistrasie en die nasionale verkiesing verloop glad.