Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering slaan toe op die ontwrigting van bouterreine
# Die Kamer van Koophandel en Nywerheid sê handelstoestande verbeter
# En, rugby: Nog ‘n beroepspeler sterf aan motorneuronsiekte
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het planne aangekondig om pogings op te skerp teen die ontwrigting van bouterreine deur samewerking met wetstoepassing. Die vennootskap wil toeslaan op geweld, intimidasie en afpersing in die sektor om ononderbroke projekvoortsetting en veiligheid te verseker. Macpherson het in sy begrotingstoespraak gesê die plan maak deel uit van breër maatreëls om wetsgehoorsaamheid en die integriteit van infrastruktuur-ontwikkeling te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê handelstoestande het verbeter, met die Handelsaktiwiteitsindeks wat in Junie sy hoogste vlak bereik het. Hoewel dit steeds negatief bly, verwag 55-persent van deelnemers verdere verbetering. Sleutelkomponente soos verkope en nuwe bestellings het verbeter, hoewel insetkoste hoog bly. Die verslag dui aan stygende verkoopspryse en insetkoste kan inflasie en rentekoerse raak. Die kamer sê in ‘n verklaring terwyl handelstoestande beter is, bly indiensneming in die sektor redelik bestendig, met 43-persent van respondente wat personeel in diens neem.
# Die minister van Buitelandse Sake van die Sahrawi-Arabiese Demokratiese Republiek, Mohamed Sidati, het Suid-Afrika aangemoedig om steeds sy land te steun. Hy het tydens ‘n vergadering met sy eweknie, Ronald Lamola, in Pretoria ook vir president Cyril Ramaphosa gelukgewens met sy herverkiesing. Lamola het tydens die vergadering beklemtoon ‘n referendum is nodig oor Wes-Sahara se selfbeskikking, en beloof om die kwessie met die internasionale gemeenskap op te neem ter wille van menseregte in die land:
# Lande in die Stille Oseaan het ingestem om die visvangkwotas vir blouvintuna-vangste te verhoog nadat voorraad herstel het. Lede van die Visserykommissie vir die Sentrale en Westelike Stille Oseaan het tydens samesprekings in Japan ooreengekom om die kwota vir groot blouvintuna met 50-persent te verhoog. Vir kleiner blouvintuna wat minder as 30 kilogram weeg, is die perk met tien-persent verhoog. Hierdie vergadering bring 26 lande en streke byeen om visvangbeleid in die Stille Oseaan vas te stel.
# Rugby: Nog ‘n toetsspeler is aan motorneuronsiekte dood. Die haker Norm Hewitt het in die 1990’s nege toetse vir die All Blacks gespeel, asook 15 wedstryde vir die Nieu-Seelandse Maori’s. Hy was 55. Hewitt het aan dieselfde siekte beswyk wat die Springbokke Joost van der Westhuizen en Tinus Linee se lewens geëis het. Albei is op die ouderdom van 45 oorlede. Navorsers het volgens berigte bevind beroeps-rugbyspelers het ‘n 15-persent groter kans om motorneuronsiekte te ontwikkel as ander mense.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-498-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-442-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….