Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Julie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle is vasberade om hul hoë spelpeil te herwin in Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Die Bokke het hul ses-twee verdeling op die plaasvervangerbank behou in die reeks teen Ierland en dit het gewerk toe hulle die eerste toets op Loftus Versveld 27-20 gewen het, maar nie toe hulle die tweede toets op Kingspark 24-25 verloor het nie. Davids sê die span is hoogs gemotiveerd om hul spelpeil te herwin ná verlede week se nederlaag:
Die veelsydige Springbok-agterspeler Sacha Feinberg-Mmgomezulu het intussen gewys hy’s ‘n speler van gehalte tydens die tweede toets teen Ierland. Die 22-jarige is by die diepkant ingegooi toe Willie le Roux in die tweede minuut beseer is. Hy het op die bank begin in al drie vanjaar se toetse, maar was Saterdag al meer op sy gemak soos die wedstryd gevorder het:
# Ons maak ‘n draai by krieket: Australië se toetskaptein, Pat Cummins, is weggelaat uit die witbaltoer in Skotland en Engeland om te rus, en die span sal gelei word deur Mitchell Marsh. Mitchell Starc en Glenn Maxwell sal die T20’s misloop en net in die eendagwedstryde speel. Cooper Connolly maak sy T20-debuut. Australië speel eers drie T20’s teen Skotland in Edinburgh, en dan drie T20’s teen Engeland, gevolg deur vyf eendagwedstryde. Die Baggy Greens verwelkom Indië van November vir ‘n reeks van vyf toetse.
# Vervolgens, gholf: Die 15-malige Major-kampioen, Tiger Woods, speel hierdie week in die Ope op Royal Troon in Skotland nadat hy verlede jaar weens ‘n besering misgeloop het. Die voormalige nommer een wil die eerste keer sedert 2019 in een jaar in al vier Majors meeding. Die 48-jarige Amerikaner het nie vanjaar die afsnypunt van die Amerikaanse PGA-kampioenskap en die Amerikaanse Ope gehaal nie, en het sedertdien nog nie gespeel nie. Woods hou egter vol hy voel sterk genoeg om deel te neem.
# En, ons sluit af met Olimpiese Spele: Wêreld-watersport sê die internasionale toetsagentskap het besluit om Chinese atlete voor die Spele in Parys agt keer te toets. Dit is twee keer meer as die standaard. Voor die Spele in Tokio in 2021 het 23 Chinese swemmers positief getoets vir trimetasidien wat prestasie kan verbeter, maar is steeds toegelaat om deel te neem. Elf van die 23 swemmers sal in Parys deelneem. Die beheerliggaam sê hierdie situasie het vertroue verswak in die stelsel teen opkikkers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….