Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaap word tot ‘n rampgebied verklaar na die uiterste weer
# ATM dien beëdigde verklarings in oor verskeie onreëlmatighede in die verkiesing
# En, tennis: Barobora Krejcikova skuif 22 plekke op in die wêreldranglys na haar oorwinning op Wimbledon
# Die Wes-Kaap is tot ‘n rampgebied verklaar na verlede week se uiterste weer. Premier Alan Winde en die minister van Samewerkende Regering, Velinkosini Hlabisa, het die verklaring in Kaapstad uitgereik. Die algehele skade word nog bepaal. Hlabisa sê daar word probeer om die uitwerking van klimaatsverandering te versag. Hy sê die regering van nasionale eenheid sal voorrang gee aan inwoners in laagliggende gebiede:
# Die ATM sê hulle het gehoor gegee aan die beroep van die Kieshof en verskeie beëdigde verklarings ingedien oor verskeie onreëlmatighede, teenstrydighede en internasionale kwaadwillige optrede tydens die verkiesing. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die verklarings dek kwessies soos die akkuraatheid van en ongerymdhede op die kieserslys, teenstrydighede wat stembusse raak, sake wat verband hou met stemtellery, en wanoptrede deur amptenare van die Verkiesingskommissie:
# Die organisasie Zero Carbon Charge moedig president Cyril Ramaphosa aan om voorkeur te gee aan die oorskakeling na elektriese voertuie in sy toespraak met die opening van die Parlement. Die mede-stigter, Andries Malherbe, vra aansporings wat insluit die afskaffing van die 10-persent invoerheffing op sonpanele. Die organisasie lig die sukses van die gebruik van elektriese voertuie in lande soos Thailand, Indië en Brasilië uit en stel ‘n sesjaar-belastingkwytskelding voor om bekostigbaarheid te verhoog. Zero Carbon Charge ontwerp 120 sonkragaangedrewe herlaaistasies, en beloof ekonomiese geleenthede en werkskepping in landelike gebiede.
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gevra die Parlement moet die Lily-myn-tragedie van Februarie 2016 ondersoek. Mashaba sê meer as agt jaar na die tragedie, is die families van Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda nie ‘n enkele tree nader aan afsluiting nie, omdat hulle herhaaldelik in die steek gelaat is deur die minister van Minerale en Petroleum-hulpbronne, Gwede Mantashe, die Nasionale Vervolgingsgesag en myneienaars:
# Tennis: Die nuutgekroonde enkelspelkampioen van Wimbledon, Barbora Krejcikova, het met 22 plekke opgeskiet op die jongste wêreldranglys. Die Tsjeg is nou in die tiende plek. Jasmine Paolini van Italië, wat in die eindstryd verloor het, het van sewende tot vyfde verbeter. Iga Swiatek van Pole is steeds nommer een, gevolg deur die Amerikaner, Coco Gauff, Aryna Sabalenka van Belarus en Elena Rybakina van Kazakhstan. Jessica Pegula van Amerika is sesde, gevolg deur Qinwen Zheng van China, Maria Sakkari van Griekeland en nog ‘n Amerikaner, Danielle Collins.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-552-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-419-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….