Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het ‘n strategiese vennootskap aangekondig met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Dowes, wat mense met gehoorprobleme bemagtig met gelyke geleenthede en erkenning. ACSA se groeps-transformasiebestuurder, Ele Tshikovhi, sê die samewerking onderstreep hulle toewyding aan steun vir die gestremdheidsektor deur vaardighede te stimuleer, wat ook hulle maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingstrategie rugsteun. Tshikovhi sê om voorste linie-personeel en dié wat met kliënte werk gebaretaal te leer versterk die maatskappy sy vasberadenheid oor inklusiwiteit en gelyke geleenthede vir almal.
# Die Wes-Kaapse regering sê die GoBeyond-konferensie was ‘n groot sukses met meer as ʼn duisend jongmense wat deelgeneem het. Die Universiteit van die Wes-Kaap het die konferensie aangebied en dit het seminare, slypskole, gassprekers, musiek en dans ingesluit. Die LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, sê die bedrywighede is ontwerp om deelnemers te inspireer en toe te rus, en hul diens, professionaliteit en emosionele intelligensie te verbeter. Hy sê die konferensie verskaf noodsaaklike ondersteuning en inspirasie aan jongmense in die oorgangsomgewing van ʼn universiteit.
# Die Universiteit van Pretoria se Giving Matters-veldtog maak onderrig vir studente toeganklik wat nie kwalifiseer vir befondsing van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie. Die veldtog is in 2022 van stapel gestuur en die mikpunt is om 100-miljoen-rand in te samel. Die veldtog het tot dusver die lewens van meer as 407 studente ten beste verander. Die universiteit se vise-kanselier en rektor, professor Themba Mosia, sê hulle het die afgelope drie jaar sowat 82-miljoen-rand ingesamel.
# Fireblade Aviation is in ‘n vennootskap met die Reach for a Dream-stigting om hulle tiende bestaansjaar te vier. Die vennootskap mik na die insameling van twee-miljoen-rand deur die verkoop van tien-duisend kaartjies vir ‘n vyfster-wegbreek. Die veldtog steun die stigting se doelstelling om vanjaar die drome van twee-duisend-200 kinders te verwesenlik. Fireblade Aviation se besturende direkteur, Leigh Kretzschmar sê die vennootskap stel die maatskappy in staat om meer gesinne met kinders wat ernstig siek is, te kan help.
# En ten slotte: Egiptiese aasvoëls wat dekades gelede in Suid-Afrika uitgesterf het, gaan weer by Hartbeespoort in Noordwes hervestig word. Die twee Egiptiese aasvoëls wat van World Bird Sanctuary en San Diego Zoo Wildlife Alliance in Amerika ingevoer is, word deel van VulPro se broeiprogram. Hulle is tans onder kwarantyn by Johannesburg se Lorypark-dieretuin. Hulle sal uiteindelik by die Shamwari Privaat Wildreservaat in die Oos-Kaap hul tuiste vind. VulPro se stigter, Keri Wolter, sê die Egiptiese aasvoël wat ook Farao se Hoender genoem word, is een van die wêreld se interessantste voëls.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….