Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die ekonomiese uitwerking van klimaatsverandering
# Die saak van die vermiste Joslin Smith word uitgestel tot September
# En, rugby: Die Bokke bly nommer een ondanks die nederlaag teen Ierland
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die uitwerking van ontwrigtende klimaatsverandering op Suid-Afrika se ekonomiese groei. Hy het gepraat op die Simposium oor Klimaatsveerkragtigheid in Pretoria, wat aangebied word deur die Nasionale Tesourie, die Presidensiële Klimaatskommissie en die Wêreldbank. Ramaphosa het die noodsaaklikheid beklemtoon om klimaatsdoelwitte met die fiskale beleid te integreer. Hy het die belangrikheid benadruk om ontkoling te versnel en Billike Energie-oordrag in te stel om ‘n meer veerkragtige, inklusiewe ekonomie te bou:
Die doel van die simposium is om klimaatsdoelwitte by die makro-fiskale en finansiële beleid te integreer en regeringskoördinering te verbeter deur klimaatsveranderings-kwessies deel te maak van die fiskus. Georgina Ryan van die Tesourie sê Suid-Afrika se Billike Energieoordrag sal onder die vergrootglas kom:
# Die Landdroshof in Vredenburg het die saak teen vier beskuldigdes wat verbind word met die verdwyning van die sesjarige Joslin Smith tot 16 September uitgestel. Joslin het vier maande gelede vermis geraak by haar huis in die Middelpos informele nedersetting in Saldanhabaai. Die meisie se ma, Kelly Smith, haar kêrel, Jacquin Boeta Appollis, hulle vriend Steveno van Rhyn en Laurentia Lombard word aangekla van ontvoering en mensehandel. Smith is swanger met haar vierde kind. Die hof het ‘n vorderingsverslag verwag, maar sekere forensiese getuienis is nog uitstaande.
# Rugby: Die Springbokke bly die wêreld se nommer een-span al het die reeks teen Ierland gelykop geëindig. ‘n Oorwinning van 25-24 danksy ‘n skepdoel in die doodsnikke vir die tweede-beste span, Ierland, in Durban het die toetsreeks gelykop laat eindig nadat die Bokke die eerste kragmeting in Pretoria met sewe punte gewen het. Die Springbokke is met 1,75-ranglyspunte gestraf na die nederlaag op Kingspark, maar is steeds voor Ierland, wat 1,75-ranglyspunte bygekry het weens die oorwinning.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-718-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die Dubaise Internasionale Lughawe bied tans die wêreldbekende Suid-Afrikaanse natuurlewefotograaf, Chris Fallows, se jongste uitstalling, Die Elfde Uur, aan. Hy het meer as drie dekades lank die planeet se majestueuse natuurlewe-ikone wat op die rand van uitsterwing is, gefotografeer. Die uitstalling se foto’s wissel van olifante wat deur stropers en ivoorhandel uitgewis word tot swerwer-albatrosse waarvan 15 uit die 22 spesies besig is om uit te sterf. Fallows sê mense moet meer doen om die natuurlewe te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….