Nuus 08:00
BULLETIN 15 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is bekommerd oor die proses om begrotingsposte in die Parlement deur te voer
# Numsa se staking by Menzies Aviation kan lughawens in vier provinsies raak
# En rugby: Die Junior Springbokke slaag nie daarin om vir die vyfde plek uit te speel nie
# Die EFF sê hy is bekommerd oor die manier waarop die Nasionale Vergadering die proses hanteer om die 2024/2025-konsepbegrotings te aanvaar. Die Parlement gaan vandag voort met die proses. Dit sluit inligtingsessies in oor departementele begrotings, jaarlikse prestasieplanne, bestedingsplanne en departementele prestasie. Die EFF sê parlementslede kry nie genoeg tyd om voorgestelde begrotings te evalueer en ingeligte waarnemings en aanbevelings te doen nie. Die party sê dis verkeerd dat begrotings sonder behoorlike konsultasie aanvaar word.
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, sê sy lede by Menzies Aviation begin vandag staak. Werkers in Kaapstad, Oos-Londen, Gqeberha, King Shaka en OR Tambo sal aan die staking deelneem. Die maatskappy se kliënte sluit in FlySafair, Qatar, Qantas en Cathay Pacific. Die vakbond se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Menzies Aviation se bestuur weier om werkers wat permanent uurliks betaal word permanent maandeliks te betaal:
# Eskom sê sy dieselverbruik is steeds onder die beraamde syfers vir die winter en dit is aansienlik laer as die afgelope twee jaar. ‘n Woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragnutsmaatskappy se besteding tussen 1 April en 11 Julie op oopsiklus-gasturbines was 3,33-miljard-rand, wat 487,16-gigawatt-ure opgewek het. Dit is sowat 70-persent minder as die 10,98-miljard-rand wat in dieselfde tydperk verlede jaar spandeer is:
# President Joe Biden vra Amerikaners om die politieke temperatuur te laat afkoel ná die sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump. ‘n Geheimediens-skerpskutter het die 20-jarige Thomas Matthew Crooks Saterdag doodgeskiet nadat hy skote afgevuur het enkele minute nadat Trump by ʼn saamtrek in Pennsilvanië op die verhoog verskyn het. Trump is in die voorval beseer en een persoon is dood. Biden het uit die Oval Office gesê politiek moet nooit letterlik ʼn slagveld word nie:
# Rugby: Die Junior Springbokke het by die Onder 20-wêreldbekerkampioenskap in Kaapstad met 34-24 teen Argentinië verloor in die halfeindronde vir die vyfde plek. Suid-Afrika sal Vrydag teen Wallis sake uitspook vir ʼn sewende plek. Die Junior-Bokke se afrigter, Bafana Nhleko, sê sy span se prestasie was soms goed, maar nie vir die volle 80 minute nie. Die driemalige kampioene van Frankryk speel in die eindstryd teen Engeland nadat hulle Nieu-Seeland met 55-31 afgeransel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-721-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….