Nuus 07:00
BULLETIN 15 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Samwu begin met loononderhandelinge vir werkers in munisipaliteite
# Die direkteur van die Geheimediens word gedagvaar om te getuig ná Trump se sluipmoordaanslag
# En tennis: Alcaraz is vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar die Wimbledon-manskampioen
# Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond gaan met loononderhandelinge begin vir werkers by die land se 257 munisipaliteite. Die vakbond verteenwoordig 160-duisend van die land se byna 300-duisend munisipale werkers. Hy eis ‘n bedryfsminimumloon van 15-duisend-rand, dat werkgewers 70-persent van werkers se mediese skema betaal en ʼn behuisingstoelaag van drie-duisend-rand. Samwu sê hy bly optimisties en daartoe verbind om beter werkstoestande en salarisse vir werkers te beding.
# Die algemene werkersvakbond Giwusa eis die vinnige inhegtenisneming van al die mense wat willens en wetens deelgeneem het aan die skaamtelose plundering van die VBS-bank en gesteel het van armes. Die woordvoerder van Giwusa, Koetse Phasha, sê die uitgelekte beëdigde verklaring van die bank se voormalige voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, betrek baie mense wat nie aanspreeklik gehou is nie. Phasha sê die plunderaars het ten doel gehad om die bank ineen te laat stort:
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê hulle wil nie net inkomste-invordering verbeter nie, maar ook ʼn provinsiale staatsbank stig en werkloosheid aanspreek. Die provinsie se begroting is 500-miljard-rand. Maile sê die staatsbank se hoofdoel is belegging in projekte met lae privaatsektor-belegging en hoë maatskaplike opbrengs:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosi Hlabisa, besoek vandag gebiede in die Wes-Kaap wat deur die gure weer getref is. Die woordvoerder van die departement Legadima Leso sê die stormweer het wydverspreide oorstromings, die ontworteling van mense en aansienlike skade aan infrastruktuur veroorsaak. Leso voeg by Hlabisa is, deur die Nasionale Rampbestuursentrum, verantwoordelik vir die bevordering en integrasie van ‘n gekoördineerde stelsel van rampbestuur in die land:
# Die direkteur van die Geheimediens, Kimberly Cheatle, is gedagvaar om volgende week voor ’n komitee van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers te getuig. Dit volg na die naweek se sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump by ʼn saamtrek in Butler, Pennsilvanië. Daar is vrae oor hoe ʼn skerpskutter toegang kon kry tot ʼn dak naby die oudpresident se posisie op die podium. Intussen gaan die Republikeinse Nasionale Konvensie waar Trump amptelik as die party se presidentskandidaat benoem sal word, hierdie week voort soos beplan.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het sy Wimbledon-titel suksesvol verdedig en sy vierde Grand Slam-titel verower. Die 21-jarige Alcaraz het die sewemalige kampioen Novak Djokovic van Serwië met 6-2, 6-2, 7-6 verslaan. Hy sluit by ʼn groep van net ses spelers aan wat in dieselfde jaar op Roland Garros én Wimbledon kon wen. Die 24-malige Major-wenner Djokovic wou die enigste rekordhouer wees van die meeste Grand Slam-enkelspeltitels. Alcaraz sê dit was ʼn droom om weer op Wimbledon te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-992-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-409-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….