Nuus 06:00
BULLETIN 15 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa veroordeel die sluipmoordaanval op Donald Trump
# Ses brandbestryders is dood in ‘n wegholbrand in Boston, KwaZulu-Natal
# En tennis: Die Suid-Afrikaner Kgothatso Montjane is ‘n Wimbledon-dubbelspelkampioen
# President Cyril Ramaphosa sê die sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump is ‘n herinnering aan die gevare van politieke ekstremisme en onverdraagsaamheid. ‘n Gewapende man, geïdentifiseer as die 20-jarige Thomas Matthew Crooks, het Trump se oor rakelings getref, een lid van die skare doodgeskiet en twee ander gewond tydens ‘n saamtrek in Butler, Pennsilvanië. Ramaphosa sê politieke geweld is die teenoorgestelde van demokrasie en dit moet veroordeel word. Hy sê hy hoop Amerikaners het die moed en wysheid om geweld te verwerp en vreedsame oplossings te soek.
# Die minister van Samewerkende Ontwikkeling en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê sy departement gee spesiale aandag aan wanfunksionele munisipaliteite. Hlabisa het die media tydens die eerste kabinet-lagotla van die regering van nasionale eenheid by die Sefako Makgatho presidensiële gastehuis in Pretoria toegespreek. Hy sê sommige plaaslike owerhede is nie in staat om water aan inwoners te lewer nie en talle onderpresteer erg in terme van bestuur, finansiële bestuur en dienslewering:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die openbare skole in alle onderwysdistrikte sal vandag open. Verlede week het skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-distrikte gesluit as gevolg van óf oorstromings en ontoeganklikheid tot toegangsroetes, óf skade aan die skoolgebou. Meer as 200 skole het die een of ander vorm van skade aangemeld. Die LUR David Maynier sê hulle sal voortgaan om die weer hierdie week te monitor:
# Ses brandbestryders is dood in ‘n wegholbrand in Boston in die KwaZulu-Natalse Middellande. Die brand het in ‘n plantasie naby Mpophomeni uitgebreek. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, sê drie brandbestryders is op die toneel dood terwyl drie ander weens ernstige brandwonde in die hospitaal dood is. Intussen het veldbrande vroeër in dele van die King Cetshwayo-, Ilembe-, uThukela- en Zululand-distrikte die lewens van minstens tien geëis.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Kgothatso Montjane en haar spanmaat Yui Kamiji van Japan, het hul eerste Wimbledon-vrouerolstoel-dubbelspeltitel gewen. Die paar, wat verlede jaar in die eindstryd verloor het, het die Nederlandse span Diede De Groot en Jiske Griffioen met 6-4, 6-4 verslaan. Dit is Montjane en Kamiji se derde Grand Slam-dubbelsteltitel saam, nadat hulle die Franse en Amerikaanse Ope gewen het. Montjane, wat in 2018 die eerste swart Suid-Afrikaner was wat aan Wimbledon deelgeneem het, sê om dié titel te wen is besonders:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-249-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het ‘n strategiese vennootskap aangekondig met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Dowes, wat mense met gehoorprobleme bemagtig met gelyke geleenthede en erkenning in die samelewing. Die groepstransformasiebestuurder van ACSA, Ele Tshikovhi, sê die samewerking onderstreep hulle toewyding aan steun vir die gestremdheidsektor deur vaardighede te stimuleer, wat ook hulle sosio-ekonomiese ontwikkelingstrategie rugsteun. Tshikovhi sê om voorste linie-personeel en dié wat met kliënte werk gebaretaal te leer, versterk die maatskappy sy vasberadenheid oor inklusiwiteit en gelyke geleenthede vir almal
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….